Op my vorige besoeke aan Laos het ek nooit aangedoen in die suide nie. Die gedagte aan lang en ongemaklike busritte op paaie wat wegspoel tydens die reen seisoen het my nie juis aangestaan nie.
Tog was ek nog altyd nuuskierig oor die dun nek van Laos wat le tussen Vietnam en Thailand en eindig teen Kambodia in die Suide. Verbeteringe aan Roete 13 Suid en die geleentheid om nou oor land vanaf Laos na Kambodia te reis het die deel van die land egter baie meer aanloklik laat lyk.
By die bus stasie buite Vientiane kry Alexander vir ons baguettes gevul met paté vir die pad. Ons word beloof dat die busrit slegs ses ure sal neem, maar niemand kruis duime nie. Agt ure, vele stoppe en ‘n gebarste band later kom ons in Savannakhet aan.
Hier moet ek myself onderbreek met inligting rakende padvervoer in Laos wat ek tot dusver nog nie genoem het nie. Dit is ‘n nagmerrie. Die hoofwee is net breed genoeg vir twee groot voertuie om met ‘n bietjie gemak bymekaar verby te ry en baie hobbelrig, selfs op dele wat nuut is. Daar bestaan ‘n (ongeskrewe?) reel dat jy op die kant van die pad wat die beste lyk ry en uitswaai vir wat ookal van voor af kom indien jy aan die ‘verkeerde’ kant is. Ek vermoed dat ‘n klein minderheid bestuurders van enige vorm van voertuig in Laos beskik oor ‘n lisensie of al ooit ‘n bestuurs les bygewoon het. ‘n Bus kan nooit vol genoeg wees nie; daar word gereeld gestop om nog op te laai en vir wie daar nie sitbankies is nie word klein plastiek stoeltjies in die gang geplaas waarop die kan sit. Gemors word by die vensters uitgegooi of op die vloer van die bus met die gevolg dat daar laat middag ‘n reuk van onvars vleis in die bus hang. ‘n Bus wat beloof om lugverkoel te wees is net verkoel vir die eerste paar minute, die res van die pad is dit oop vensters en dalk waaiers. Indien jy beplan om in Laos met die publieke bus te reis, neem in ag dat ‘n oordosis geduld (wat ek nie juis het nie), goeie lees stof en anti-naar baie goed te hulp kom.
Savannakhet is ‘n pragtige ou dorpie langs die Mekong met so baie potensiaal. Daar is orals ou koloniale geboue en meer sosialistiese moderne strukture uit die sestigs asook Sjinese winkelhuise te sien. Ongelukkig is daar ‘n duidelike kort aan ekonomie en dus staan baie van hierdie geboue leeg en in verskillende stadia van verval. Baie is agter gelaat tydens die revolusie in die sewentigs deur welaf Vietnamese en Sjinese wat oor die grens na Thailand gevlug het.
Soos ons verby al die mooi en fassinerende geboue drentel maak ons fantastiese planne om gastehuise, koffiewinkels en eetplekke te open wat toeriste sal lok na die dorp.
Alhoewel ons Savannakhet baie fraai find spandeer ons net een aand hier. Eet en koffie opsies is beperk en ongelukkig is die plaaslike mense ietwat bot en kortaf. Ons drome word gou vergete en ons klim op die ‘four hours’ bus na Pakse.
Ek is heiliglik oortuig daarvan dat ons in Pakse kon wees binne drie ure, maar ons bus het letterlik (ek jok nie) helfte van ons rit gestop om mense op te laai of vir geen duidelike redes nie. Sodra die bus stop om een op te laai klim dertien af om te rook en rond te draai. Die hele pad lank voel dit of ons nooit meer as dertig kilometer per uut ry nie en ook nooit verder as drie kilometer voor ons weer stop nie. Die bus word oor-oorvol gelaai en my geduld en naaste-liefde tot die uiterste beproef.
Ses ure later is ons in Pakse, wat regtig besonder oninspirerend is. Allerlei avontuur aktiwiteite word aangebied, maar die vaalgeit van die dorp spoor ons aan om vroeg die volgende more (waar is ons nou, Sondag?) ‘n boot te neem vir die negentig minute op die Mekong na die uiters slaperige dorpie, Champassak.
Die dorpie bestaan basies uit een lang straat langs die Mekong met ‘n paar huise, vervalle ou koloniale huise en omtrent vyf gastehuise, waarvan dit lyk of net twee werklik oop is. Die hoofrede hoekom ons hier aandoen is om die ruines van Wat Phou te besoek.
Wat Phou is Laos se beste voorbeeld van Angkor era argitektuur, ‘n tempel en moontlik paleis kompleks wat gebou was teen ‘n heuwel agt kilometer suid van Champassak. Die paleise en tempel is nog redelik goed bewaar, alhoewel dele al erg inmekaar getuimel het. Dat dit ‘n UNESCO Wereld Erfenis gebied is help egter dat daar moeite gedoen word om dit te bewaar.
Ons spandeer twee aande in Champassak en besoek die ruines op die middle dag. Daar is werklik niks meer om hier te doen as net ontspan nie en aangesien ons die vorige paar dae vanaf Vientiane heeltyd oppad was maak ons goed gebruik van die geleentheid.
Maar ons is ook nou baie ver van Vientiane met sy lekker lattes en nog verder van Bangkok en Thailand waar ons nog grondboontjie botter op volgraan brood kon kry. Wie weet wanneer ons weer hierdie luukses gaan geniet?
Dinsdag vertrek ons verder suid na Si Phan Don of die 4000 Islands van Laos. Hierso word die vloei van die Mekong onderbreek deur ‘n massa eilande, sommiges piepklein en ander groot genoeg om bewoon te word, kompleet met tempels en rys landerye. Ons neem ‘n boot oor na Don Khong eiland waar ons ons laaste dag of wat in Laos sal spandeer.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
hi,
ek kan nie wag om van jou volgende ekspidiese te lees nie!ek travel saam in gees :-)
my adres:
Greenville Estate 15
de Villiersrylaan
Durbanville
Suid Afrika
7550
Post a Comment