Vientiane vergelyk tot ‘n mate met Maputo. Met eerste oog opslag is albei bouvallige stede wat nooit herstel het van post-koloniale ontwrigtinge nie, daar is nie besonder baie in die lyn van toeriste aantreklikhede nie en die strate is in swak kondisies. Maar loop ‘n bietjie rond en jy ontdek oulike koffie plekke, pragtige ou koloniale strukture, plaaslike markte en ‘n rustige atmosfeer, effens kosmopolitaans, waarin jy vir ‘n paar dae kan ontspan.
Soos reeds genoem is daar hier ook ‘n JoMa Bakery, maar die atmosfeer binne is meer stedelik en ons stem saam dat dit lyk na die tipe koffie winkel wat baie gemaklik tuis sal wees in Silverlake in Los Angeles of Kloofstraat in Kaapstad. ‘n Hele paar ander bakkerye en koffie winkels is hier te vinde asook duur Europese restaurante en ‘n Dao Fa (selfde as die een in Luang Phabang!).
Ons maak gebruik van die ontspanne atmosfeer deur laat te slaap, heerlike ontbyt te eet, koffie te drink by vele plekkies en darem ook ‘n draai te maak by die That Luang, ‘n reuse goue stupa en Laos se mees heiligste monument.
Ons tweede aand eet ons by een van die vele Mekong restaurante wat saans stelling inneem onder afdakke waar die gewildste item ‘n soort maak-dit-jouself noedel sop is. ‘n potjie kole en kookpot word op die tafel staan gemaak en dan kry jy ‘n bord vol dun droee noedels, vars blaar groentes en chili en knoffel asook die vleis van jou keuse. Alles word in die pot gegooi en gegeur na smaak. Wanneer die vleis gaar is skep jy dit in jou bakkie en eet!
Na ‘n besoek aan die Tourist Information Centre het ons genoeg inligting bymekaar gemaak om uit te werk hoe om besoek te doen aan die nabygelee Phou Khao Khouy Nasionale Park.
Ons neem Woensdag ‘n bus na die dorpie Ban Phabat vanwaar ons stap na Ban Na wat le op die grens van die park. Olifante het ‘n paar jaar gelede al nader aan die dorpie begin beweeg en bietjie probleme veroorsaak vir die plaaslike boere.
‘n Toring is gebou deur natuur kenners naby ‘n natuurlike soutlek vanwaar die olifante bestudeer kon word en daar is besluit om saam met die dorpie ‘n inisiatief te begin wat vir beide die dorpie en olifante voordelig kan wees.
Vir meer inligting oor die projek en hoe dit werk, besoek http://www.trekkingcentrallaos.com/. Dit is ‘n briljante plan en ‘n besondere voorbeeld van hoe mense in ‘n positiewe manier met hul omgewing kan saam werk.
In Ban na word ons voorsien van twee wild gidse wat ons sal neem na die toring en die aand vir ons kook ensovoorts. Na ‘n paar uur se stap deur landerye en woud kom ons die middag by die toring aan. Dit staan reg langs die soutlek met ‘n stroompie wat naby verby vloei. Geriewe is basies, daar is darem ‘n toilet bo in die toring wat werk soos ‘n mandi en ook stoele. In ‘n staal kis word spons matrasse, slaapsakke, kussinkies en muskiet nette gestoor.
Ons spring eers in die stroom om af te koel, maar is gou weer uit toe ons reuse (vyftien sentimeter lange monsters) bloedsuiers in die water sien swem.
Die aand kook die gidse vir ons ‘n berg sticky rys en noedelsop met vark vleis en kool. Omtrent dieselfde wat ons vir middagete in die dorpie ook gekry het. Orals om ons is die nag gevul met die roep van bos uile en in die verte dreun ‘n storm. Ons beddens word neergele en die muskiet nette word vasgemaak aan die stoele om oor ons te hang. Die oombli toe die ligte gedoof word sak vlermuise op die toring toe om die motte wat nog rond vladder te vang.
Ons word nie besoek deur die olifante nie, maar ontvang wel ‘n bui reen en hoor die veraf geblaf van muntjac. Hierdie is beslis die mees avontuurlikste slaap van ons hele reis.
Ontbyt die volgende oggend is so te se dieselfde as aandete en middagete, plus ‘n omelet. Na ontbyt word alles weggepak en stap ons weer met ‘n ander draai terug na Ban Na om net voor twaalf daar aan te kom. Alexander sien langs die pad darem ‘n slang raak en ons word orals omring deur die gesing van bos voels.
‘n Stamperige songthaew rit later en ons is terug in Vientiane. Dit is ons laaste dag hier en ons besef dat goeie koffie en Westerse kos in die suide van Laos dalk nie meer ‘n opsie gaan wees nie. Dus spandeer ons die laaste aand letterlik tussen JoMa en Dao Fa met lattes, gegeurde en gestoomde melk, slaaie en brownies. Het ek al genoem dat ek, soos my ma, gemaak is vir die lekker lewe?
Met tevrede siele klim ons die aand in die bed. Ons vertrek more oggend heeltemal te vroeg na Savannakhet en die suide van Laos waar ek nog nie vantevore was nie en nuuskierig is om te sien.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment