So waar was ons orals en wat het ons alles aangevang?
Avonture in die Oerwoud- Khao Yai Nasionale Park
Maandag 18 Junie sleep ons vroeg uit die bed en eet vir oulaas ontbyt by Rick’s voor ons die bus neem na Bangkok se Hualamphong stasie. Met ‘n trein, soortgelyk aan die houtbankie een waarmee ek na Kanchanaburi is, ry ons na die dorpie Pak Chong ‘n hele paar uur noordoos van Bangkok. Met ‘n publieke songthaew ry ons na ‘n gastehuis buite die dorp waar ons die aand oornag. Die gastehuis is deel van ‘n familie opset en heel eenvoudig dog netjies met ‘n oumatjie wat vir almal kook.
Volgende oggend ry ons verder per songthaew tot by die ingang van die Khao Yai Nasionale Park.
Nou, ek was oor die afgelope sewe of wat jaar ‘n baie gereelde besoeker aan Thailand en al wat ek ooit hier kom doen het was inkopies, son soek en oordosisse voet masseerings. Ek het nooit werklik aan Thailand gedink as oerwoud destinasie nie, daarvoor is ek na Maleisie. So dit was met groot nuuskierigheid en opgewondenheid dat ek en Alexander van die Songthaew afklim en ons ingangsfooi betaal vir die park.
Vanaf die ingang tot by die besoeker’s sentrum is meer as veertien kilometer se stap, maar gelukkig bied die hekwag aan om iemand te vra vir ‘n geleentheid. Na ‘n rukkie se wag stop ‘n bakkie en laai ons agterop en so begin ons avontuur in die oerwoud, agter op ‘n rooi Toyota bakkie met ‘n koel reenwoud reen wat ons verwelkom.
By die besoeker’s sentrum kry ons ‘n verwarrende kaart in Engels en drie verskillende opinies oor hoe ver die kampeer area van die sentrum af is en hoe om daar te kom. Ek is tot nou toe nie seker hoe ver ons die eerste dag gestap het nie, maar dit was beslis ruim verder as wat enige van die personeel vir ons laat verstaan het.
Die geroep van gibbons in die digte woud het wel opgemaak vir die stap. Ons het nie verwag om veel te sien nie, dit is na alles ‘n tropiese reenwoud en nie gras vlaktes nie, en aangesien dit die reen seisoen is is alles baie meer ruig en donker. Maar oppad na die kampeer terrain sien ons varkstert macaques, muntjak bokkies en sambar takbokke.
My groot wens was om ten minste eenkeer gibbons te sien, maar omdat hulle meestal in die hoogste takke en ruigste dele rondswaai het ek gewet die knase is skraal. Halfpad oppad kampeer area toe hoor ons egter baie naby aan die pad die hartseer, hoe gesing van ‘n gibbon. Ons staan stil en loer deur die takke. Ek kan die takke sien skud en beweeg en dan sien ons die skaduwees wat swaai tussen hulle. Vir ‘n oomblik kan ek ‘n bietjie uitmaak van ‘n hele gibbon! Verder sien ons net die donker silhouette wat swaai-swaai-swaai.
By die Lam Takong kampeer terrein huur ons ‘n tent vir ‘n paar Baht, asook skuimrubber matrassies. ‘n Vriendelike skrywer van Bangkok gee ons ‘n geleentheid na ‘n staproete wat lei na twee van die watervalle in die park. Die oerwoud paadjie lyk of dit nie gereelde verkeer kry nie en ons stop kort-kort om nare bloedsuiers van ons skoene en enkels te verwyder. Ons sien ook ‘n menigte briljant gekleurde skoenlappers, akkedisse, ‘n bruin slangetjie en woud voels met helder flitse kleur op hul vlerke.
Die aand stap ons met ‘n korter pad (wat eers as gevolg van tekort aan padtekens ‘n lang roete word) terug na die besoeker’s sentrum en sluit ons aan by ‘n nag safari.
Van agter op ‘n tipe songthaew met oop kante en ‘n man wat staan met ‘n helder gloeilamp ry ons die nag in. Aanvanklik sien ons heelwat van die sambar takbokke wat in groepe van vyf staan en vreet langs die pad.
Weereens verwag ons om min te sien, maar skielik rem die bestuurder hard en die lig val op ‘n groot lyf wat staan en vreet aan ‘n tak. ‘n Asiese bos olifant. Hy is ruim groter as die wat ek al by toeriste atraksies sien rondstaan het. Ek probeer om vinnig in die swak lig ‘n foto te neem waarop mens amper die olifant kan uitmaak. ‘n Oomblik na ons hom gewaar verdwyn hy deur ‘n klomp bosse die woud in. Daar is geen teken dat daar ooit ‘n reuse dier hier was nie. Ek tik Alexander op die skouer en noem aan hom dat dit die presiese plek is waar ons ‘n uur vantevore verby gestap het opsoek na die besoeker’s sentrum.
Heelwat sivet katte sluip rond in die gras en loer af en toe na ons toe. Ons sien ook ‘n dhol of Asiese wildehond, en ‘n Maleisiese ystervark naby ons kampeer terrein wat sy penne kwaai skud toe ons verby hom loop oppad terug tent toe. Deur die nag word ek kort-kort wakker van die geluide van die oerwoud- paddas, blaffende bokke en soms ‘n gibbon.
Laat middag op ons tweede dag stap ons terug besoeker’s sentrum toe waar ons onsself rustig besig hou met sketswerk en lees tot ons weer by ‘n nag safari aansluit. Dit kos net B40 per persoon, so hoekom dan die twee aande in ‘n ry nie? Ongelukkige sak daar ‘n bui reen uit net soos ons begin ry en die wild hou hulself skaars. Ons sien wel nog ‘n enkel olifant bul (weereens op ‘n pad wat ons gestap het die middag). Hierdie een is buierig en maak himself nie skaars nie maar storm op die bakkie af, die drywers jaag weg en die kwaai bul sit sy stormloop om in ‘n drafstap en draai dan om in ‘n ander rigting.
'n Spirit house in die oerwoud waar eens 'n huis gestaan het.
Donderdagoggend word ons vroeg wakker geroep deur die gibbons. Ons slaan die tent op en kry ‘n geleentheid met ‘n park vragmotor na die hek vanwaar ons weer die songthaew neem tot in Pak Chong. Van hier vertrek ons per trein weer deels deur die oerwoud na Ayutthaya, so paar uur noord van Bangkok.
Antieke hoofstede- Ayutthaya en Sukhothai
Bangkok het redelik onlangs eers die hoofstad van Thailand geword, erens in die laat 18de eeu, na Ayutthaya telkemale vernietig is deur oorlog behepte Burmese, het koning Rama I (die eerste in die Rama familie van konings, die huidige koning is nommer 9) hierheen geskuif.
Voor Bangkok was daar Ayutthaya en voor haar was daar Sukhothai. Vandag bestaan beide nog in die vorm van kleiner dorpies/stede en die groot trekpleisters hier is die ruines van die antieke stede of hoofsaaklik temple komplekse. Die paleise en huise self was van hout en het met tyd vergaan, maar die temples, die belangrikste geboue, was altyd gebou met klip en stene.
Ons arriveer laat middag in Ayutthaya en kry ‘n kamer in ‘n 100-jaar oue teak huis op een van die rivier banke. Daar is baie min rede lyk dit om hierheen te kom behalwe vir die ruines. Meeste restaurante bedien vervelige kos en die stad self is nie juis aantreklik of interessant nie. Gelukkig bedien ons gastehuis heerlike disse soos tuna met groen Kerrie in piesang blaar asook draak vrug slaai.
Vrydagoggend huur ons ‘n motorfiets en ry so tussen ‘n paar ruines deur. Van die komplekse is redelike goed bewaar en plek-plek is daar nog van die oorspronklike Boedha beelde te siene, maar op baie plekke is dit maar bouvallig en le daar soms halwe stukke van Boedha beelde rond. Skool toere is ook volop wat nogals afbreek maak aan enigiets antieks en mooi.
Ons het gedink om bietjie langer in Ayutthaya te rus, maar die feit dat daar nerens ‘n ordentelike latte of eens koppie koffie te kry is nie (meeste plekke bedien kits koffie- jig!) laat ons besluit om Saterdagoggend die eerste bus verder noord na Sukhotai te neem. Meer as twee ure na die bus verwag word trek die uiteindelik by die stasie af en ons klim met groot vreugde op die lugverkoelde ‘VIP’ bus.
In Sukhothai kry ons ‘n ‘n tipe hout bungalow in ‘n tropiese tuin met swaar houtraam vensters. Ons neem aandete by een van die vele straat stalletjies naby een van die dorp se wats. Skerp noedel sop en hoender gebraai met brandrissie en basiel. By ‘n ander stalletjie bestel ons piesang roti vir nagereg.
Sondagoggend neem ons nog ‘n songhthawe uit na die ou stad. Ons stop eers by ‘n restaurant wat in ons gids genoem word vir hulle lekker koffies, maar die latte’s is maar flou en vervelig.
Die hoof kompleks in Sukhothai is besonder mooi bewaar. ‘n Reuse stuk aarde vol ruines waarin daar nog massiewe Boedhas sit en uitkyk oor die wereld om hulle. Baie meer moeitie is gedoen om hierdie kompleks te herbou soos dit oorspronklik gelyk het. Binne in die gronde is daar ook nog van die oorspronklike moats (weereens ‘n word wat ek glad nie meer seker van is in Afrikaans nie) wat gevul is met water om ‘n idee te gee van hoe dit oorspronklik gelyk het.
Ons spandeer meeste van die tyd in die sentrale area asook die museum waarin baie ou beelde en erdewerke te sien is voor ons terugkeer na die nuwe Sukhothai. Weereens word ‘n besoek aan ‘n dorp kortgeknip as gevolg van ‘n tekort aan ordentelike koffie en Maandagoggend spring ons op die bus na Chiang Mai, Thailand se tweede grootste stad in die noorde van die land.
No comments:
Post a Comment