Thursday, July 12, 2007

Stadige boot na Luang Phabang en eerste dae in Laos

Vrydag vertrek ons per bus noord-oos na Chiang Khong langs die Mekong en rivier waar die noordelikste grenspos tussen Thailand en Laos is.

Ons oornag by die oulike Bamboo Gastehuis reg langs die rivier en sien vir die eerste keer die reuse geitjies waarvan ons gelees het. Twee van hierdie derting sentimeter lange diertjies kruip rond langs die dak van die restaurant opsoek na motte. Pragtig en baie meer luiddrugtig as hulle kleiner nefies.

Die baie dierbare gastehuis eienaar (wat ons verduidelik dat hy anders as ander plekke, nie Bob Marley en Eagles speel om mense te lok nie maar net sy eie wereld musiek en jazz met sy gaste deel) se vrou het vroeg oggend ‘n volgraan brood gebak en ons geniet dit saam grondboontjie botter (wat ek nog nerens weer kon vind nie) en koffie voor ons na die immigrasie kantore drentel.


Ek he teen dag langer gebly as wat ek moes, maar daar is geen probleme en nie en gou steek ons die Mekong oor in ‘n eenvoudige lang kanoe met ‘n eenmotor enjin. Aan die Laos kant van die rivier vul ons papiere in en US$35 later word ons een-maand visas, wat tot onlangs toe net vyftien dae was, in ons paspoorte gestempel.


Volgende koop ons kaartjies vir die stadige boot af met die Mekong na Luang Phabang. Dinge in Laos verloop baie stadiger en baie minder ge-organiseerd as in byvoorbeeld Thailand. Ons boot verlaat Huai Xai ruim later as oorspronklik gese. Ons maak die rit met twee bote aangesien daar baie meer mense opdaag op die Saterdagoggend as wat verwag is.

Ons was gelukkig om op die tweede boot plek te kry (ons was aanvanklik gevang op kietsregop hout bankies op die eerste boot) waar daar minder passasiers is en ons kry spasie in ‘n deel waar geen bankies is nie, net kussings. Beslis die gemaklikste manier van reis op so ‘n vaart.

Die vaart duur om en by ses tot sewe ure. Soos on rivier af dryf wissel die landskap van klein rivier dorpies, landerye op heuwel hange, digte oerwoud en bamboes bosse. Die nadeel van die sit op die ‘grond’ is dat tensy jy opstaan jy nie heeltyd baie van die landskap sien nie, maar dit is in elk geval lekker om soms bene te strek, so ons het niks om oor te kla nie.





Al die bote het so 'n tuintjie voor op.

Vroegaand doen ons aan in Pakbeng waar ons oornag. Die dorpie het as gevolg van die bote se stop ‘n paar gastehuise en ons kry ‘n kamer in ‘n nuwerige plekkie met skoon beddegoed en badkamer waar alles werk.

Ons is dankbaar dat die plek waar ons bly en eet die aand niks van die grillies trek wat ons op die boot bespeur het nie. Hoekom is daar altyd een of ander ouer vark met ‘n hoed wat obsene aanmerkings maak en nie sy mond kan hou nie of oningeligtes wat kliphard vrae vra soos “Does Laos have a king- who is this bloke on their money?” Goeiste! Lees ‘n boek en vind uit voor jy op reis gaan en hou jou bek jou luidrugtige ou swaap!
Sondagoggend is ons vroeg op die boot en die keer kry ons van die ou minibus sitplekke wat gemaak staan is op die boot Gemakliker as die houtbankies, minder so as die ‘grond’ sitplekke, maar die keer he tons ‘n uitsig wat die reis baie korter laat voel, al is dit langer as dag een.

Laat die middag arriveer ons by ons eindbestemming, Luang Phabang.

Ek was al twee keer vantevore op besoek aan hierdie pragtige UNESCO Wereld Erfenis dorpie langs die Mekong rivier. Jare gelede was dit die hoofstad van Laos en die laaste koningshuis het hier gewoon tot hulle weggeneem is deur revolusioneres. Die heiligste Boedha beeld in Laos, die Phabang, word ook hier gehuisves.

Die argitektuur van die dorp (of stadjie) bestaan hoofsaaklik uit Frans-Indosjinese geboue (sommige van die details herinner aan ou huise in die Wes Kaap) asook Sjinese winkelhuise- die grondvloer is die winkel en die volgende twee is die huis, en ‘n paar tradisionele Lao hout huise. Daar is ook ‘n groot hoeveelheid Wats in en rondom die dorp. Streng reels bepaal hoe nuwe geboue moet lyk en hoe ou geboue gepreserfeer moet word.

'n Straat vol Frans Indo-sjinese geboue


Tradisionele Laos huis

Sjinese winkel-huis


Wat Mai

Luang Phabang is ‘n stadige plekkie en dit is wat ons doen vir ons verblyf. Wees stadig, slaap laat, drentel deur die Wats, eet lekker en probeer Lao koffie. Laasgenoemde is nie ‘n gunsteling nie, selfs vir ons smaak is dit te sterk, amper te bitter, maar dit proe ruim beter wanneer jy sos die Lao ‘n goeie dosis kondensmelk daarmee meng.

Ons probeer ook daardie berugte Asiese vrug, die Durian. Lank het ek verby markte in plekke soos Taiwan, Maleisie, Thailand en Singapoer geloop en die durian se reuk in die lug gesnuif. Dikwels het gewonder hoe dit smaak en of dit erger of beter as die reuk sal wees. Die reuk het my egter nooit soveel gepla nie, beslis beter as stink tofu.

Durian is sleg. Slegter as wat dit ruik. Daar is ‘n sekere mango wat ek al probeer het, proe so bietjie soos kasterolie en parafien. Dit is hoe die durian geproe het maar ruim sterker, met dalk die vaagste geurtjie van vla. Beslis nie genoeg om my oor te haal om meer as drie stukkies te probeer nie voor ek my vurk neersit met ‘n “Blegh!”

Ons het darem een dag, gister, bietjie meer aktief spandeer. In pas met ons besluit om in elke land ‘n kook kursus te doen het ons gister deur die Three Elephants Restaurant geleer hoe om ‘n paar Lao disse te maak.

Die Lao disse is soos Thai disse ook baie geurig, maar van die geure is dalk bietjie meer subtiel. Minder vis sous en rissie, bietjie meer suiker en so meer. Ons kyk eers hoe die twee onderwysers, Neng en Leng, ‘n paar disse maak, proe en kies dan watter ons wil maak.

So leer ons toe om gebraaide noedel en hoender, Luang Phabang slaai met eier mayonnaise, hoender larp (‘n soort hoenderslaai- baie geurig), vark bredie met eier en vis sous en gebraaide eiervrug en gemaalde vark te maak. En die baie geurige soet rissie smeer wat jy met so te se enigiets kan eet as ‘n soort bykos.

'n Paar van ons Laos disse

Ons volgende kook kursus sal hopelik erens in Kambodia wees.

So wat nou vir ons twee avonturiers? More neem ons die bus suid na Vang Vieng om vir ‘n dag te kayak en daarna verder suid na die hoofstad, Vientiane, waar ons hoop om weer ‘n motorfiets te kan huur en vir ‘n paar dae die nabygelee nasionale park en mensgemaakte meer te besoek.

No comments: