Ek het vanoggend beskuit gebak vir die pad. Ek is my lewe lank nog verslaaf aan my ma se beskuit. Een van my vroegste herinneringe is hoe ek in die oggende van een na twee stukkies beskuit saam met my koffie gegaan het.
Die beskuit resep is basies dieselfde as die een wat my ma nog altyd gebruik, maar met bietjie minder suiker en margarien.
Terwyl die beskuit besig is om uit te droog in die oond sal ek die tyd neem om te noem waar ons orals gaan op hierdie padreis.
Ons verlaat Los Angeles eerskomende Sondag die 13de. Ons eerste aand kuier ons in Las Vegas! Ek sien cocktails langs die swembad en moontlik sal ek my geluk probeer op een van daai masjiene wat so tekere gaan. As ek gelukkig is wen ek dalk ons petrol geld terug.
Volgende more ry ons deur die Mojave woestyn na Joshua Tree Nasionale Park waar ons die aand kampeer. Dan voort na Organ Pipe Cactus Nasionale Monument op die grens met Mexico in Arizona. Teen Donderdag hoop ons om by Grand Canyon te wees waar ons twee aande kampeer en 'n roete of twee gaan stap.
Saterdagaand slaap ons oor in Monument Valley by Utah en dan voort na Colorado waar ons Mesa Verde Nasionale Park sal besoek en dan twee aande gaan spandeer by die Great Sand Dunes Nasionale Park.
En dan suid na Albuquerque waar ons vir ietwat meer as 'n week gaan kuier by Alexander se familie.
Ek is so opgewonde en kan nie wag vir die hele reis om te begin nie. Daar is net soveel om te doen voor dan. Soos playlists vir die iPods. En besluit wat om te lees. En watse klere om in te pak. En totsiens kuiers by die vriende.
Maar nou gaan ek eers stort en beskuit uitpak en dan gaan ons koffie drink in Pasadena. Baie ander lekkerder dinge om te doen as organiseer.
Wednesday, May 9, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment