Ons is oppad na Albuquerque, New Mexico, waar Alexander groot geword het en meeste van sy familie woon. Pleks van die meer direkte roete, deur Flagstaff in Arizona wat omtrent 12 ure neem, het ons besluit om ‘n road trip te onderneem via Nevada, Arizona, Utah en Colorado.
Oppad na Las Vegas in Nevada stop ons in Baker. 'n Ideale voorbeeld van roadside America. Baker bestaan uit 'n paar motels, eetplekke, vulstasies en die wereld se hoogste termometer.
By die California en Nevada grens word jy begroet deur ‘n paar lelike casinos en dan weer woestyn. So vêr as wat die oog kan.
Ek het gelees dat jy ry en ry en ry en niks sien nie en dan skielik is daar hierdie stad, omring van woestyn en groot niks. Die beste tyd om daar aan te kom is saans sodat jy die ligte in die verte kan sien, maar ons het in die middag ge-arriveer en dit was net so ongelooflik.
Soos ons nader aan die stad kom sien ek ‘n piramide van glas, ‘n replika van die Eiffel Toring en die Chrysler gebou. Spoedig is ons in die stad en besig om deur al die verkeer te sukkel op The Strip.
Las Vegas is oorweldigend. Ongelooflik oorweldigend. Die geboue is groot, die strate breed, die kleure helder en tacky, die mense groot en aardig. Buite die Luxor is daar ‘n replica van die Sphynx wat groter is as die regte een. Die MGM Grand is ‘n reusagtige glas monument wat groen gloei. Venice lyk so te se net soos die oorspronklike Venesië in Italië.
Ons ontmoet ‘n paar vriende van LA in Old Town Vegas. Die sensory overload laat my geskok en verdwaald rond kyk en een van die vriendinne sê vir my, “Bordeaux, I think for you to be able to appreciate all of this you need to be at least a little tipsy.”
Alexander het vir ons ‘n kamer gekry by die Flamingo, ‘n hotel op die Strip wat nog hunker na ‘n ouer Vegas. Van buite flits helder pienk neon ligte die ‘tropiese’ atmosfeer waarna die hotel hunker, maar die kamers binne kan enige ander hotel of motel in enige ander stad in die wêreld wees. Blykbaar is baie van die kamers in hotels eenvoudig terwyl die res totaal over the top is aangesien mense so min tyd binne in hulle kamers spandeer en so baie in die casinos. Die pienk flaminke in die tuin om die swembad maak op vir die drab kamers.
Ons dwaal die aand rond deur ‘n paar van die casinos. Alles ruik na rook en ek kan nie glo hoe baie REUSE mense ek sien nie. Regtig massief, en hartseer. Daardie prentjie van ‘n ou tannie wat by ‘n masjien sit met ‘n sigaret tussen die lippe en hand wat klou aan die slinger is waar. Die cocktail waitresses lyk asof hulle goeie jare lank reeds verby is. Die mense wat kaarte uitdeel by die tafels of hulle lankal moed opgegee het.
Las Vegas, lyk dit, is tegelyke tyd een van die mees opwindendste en hartseerste plekke in die wêreld.
Alexander sê daar is blykbaar ‘n paar dinge wat mens moet doen in Vegas. Speel op die masjiene (check) en kry gratis drankies (check), cocktails langs die swembad (check) en ‘n buffet ete (check).
Na ons reuse buffet midagete Maandag by die Luxor speel ons vinnig ‘n laaste keer op die masjiene en ek wen die groot totaal van $5. Ons stop by ‘n vulstasie waar ek ‘n paar verdwaalde siele sien speel op die slot masjiene in die winkel en dan weer terug na die woestyn.
Ons keer vandag weer terug na California waar ons deur die ongelooflike mooi Mojave woestyn ry oppad na die Joshua Tree nasionale park. Die woestyn is oortrek van die vreeslike mooi Joshua Tree bome wat arms opstrek na bo en yucca plante met hulle skerp blare.
Oppad sien ons ‘n spook dorp en ‘n klein plekkie genaamd Amboy. Daar is tekens dat daar op ‘n stadium ‘n motel was en ‘n diner. Maar nou lyk dit of daar nog net een gesin bly met ‘n parmantige hond wat op die toonbank van die diner rondloop. Ek wag gedwee met twee bottels water tot die eienaar terugkeer van wie weet waar en vir my sê, “You should have just left the cash on the counter dude!”
Ons ry verder deur Wonder Valley. Ek is nie seker van die wonder nie. Al wat ek sien is verdwaalde posbusse en soms ‘n verdwaalde woonwa huis of vaal huisie. En die vlaktes. Die grootste groot vlaktes wat my mond laat oophang (soos nog baie kere op die reis). Ek het gedink die Karoo het groot vlaktes, daar by die Vallei van Verlatenheid. Maar wat ek vandag gesien het is groter, ruim groter as dit.
Laat aand kom ons aan in die park. Ons kampeer by die Jumbo Rock kamp tussen reuse rotse waar die enigste fasiliteit ‘n put toilet is. Anders as die parke blyk dit of daar nie enige heinings is nie en vroeg die aand sien ons die silhouette van ‘n kit fox op die rotse so te se reg langs ons.
Daar is een ander groep kampeerders en ons spandeer die aand in doodse stilte tussen sterre en rotse. Deur die nag word ek wakker en hoor ‘n coyote roep.
No comments:
Post a Comment