Monday, May 7, 2007

Lesotho

Hierdie is ruim meer as 'n jaar agterstallig, maar ek warm bietjie op so just bare with me.

Die kort vakansie was 'n redelike impromptu besluit. My bekommerde ouers is nie eens in kennis gestel nie en het selfs Die Burger gebel opsoek na my huismaat om uit te vind of hy weet waar ek was.

Ek en Alexander het mekaar skaars geken toe ons die Saterdagoggend uit Seepunt vertrek. Oppad uit die stad het ons eers by die Vida in Groenpunt gestop vir latte's en muffins.

In die groen Corolla was 'n geleende tent, twee slaapsakke, twee rugsakke en 'n boks met sekere kos items. Die wat my goed ken weet dat ek 'n redelike pynlike ge-ordende streep van my Martin-oupa ge-erf het, maar op hierdie vakansie was daar niks orde te bespeur nie.

Laat die Saterdagaand arriveer ons in Colesberg. Ons het gehoop om ons eerste aand in Bloemfontein te wees, maar ons het duidelik heeltemal te veel gedraai in Maatjiesfontein (hoe ons dit reggekry het is onseker).

Ons ry die dorp in en vind vinnig 'n plek waar die oggend 'n rondawel oopgegaan het. Ongelukkig kon die plek nog nie opgeruim word nie, maar daar is twee enkel beddens wat ongebruik is so as ons nie omgee nie kan ons die kamer kry vir R80.

Reuse bargain dink ons, maar ons besluit om eers te gaan kyk. Die kamer geval ons egter glad nie, miskien was dit die vet stroom miere wat van die deur na 'n tafel vloei. Op die tafel is 'n bord met 'n stuk oorskiet varktjop wat lyk of dit rondskuif soos die miere daarom wriemel.

Na 'n hele ruk se gesoek kry ons plek in die Colesberg Backpackers. 'n Angswekkende grot langs 'n seedy plaaslike kroeg waaruit nare musiek dryg om ons heelnag wakker te hou. Wat dalk goed is, die gevoel dat ons in ons slaap aan flarde gekap gaan word deur die inn keeper is sterk.

Die inn keeper blyk gelukkig net 'n misverstaande karakter te wees en vroeg die volgende oggend vertrek ons.

Ons stop in Bloemfontein om 'n paar benodighede soos borde, bekers, eetgerei en 'n pot te koop. Ons hoop besluit om kos aankope in Lesotho te doen.

Ons maak ook 'n draai by die Oliewenhout Museum. Pragtige gebou en tuine waardeur ons rustig drentel voor ons die laaste stuk insit na die grens.
Sonder probleme is ons deur die grenspos en besluit om 'n draai te stap deur Maseru. Op 'n Sondagmiddag gaan daar egter min aan en die hoofstad be-indruk nie huis nie. Oppad uit die stad stop ons by drie vulstasies opsoek na unleaded petrol en gooi uiteindelik maar gewone petrol in.

Gelukkig het ons vol gemaak, anders was daar probleme. Ons sien nie weer 'n vulstasie vir amper 'n week nie!

Ons eerste aand in Lesotho het ons oornag in die skadu van die magiese Thaba Bosio. Daar is twee stories oor oorsprong van die naam, wat beteken Berg van die Nag. Een reken dat Koning Moshoeshoe en sy volgelinge in die nag hier aangekom het en die berg bestyg het. Die ander dat die berg snags groei en groter lyk en vyande weghou. Ek hou meer van die tweede storie en wil selfs se dat dit gelyk het of die berg groter daarna uitgesien het na sononder.

Die volgende oggend vroeg gaan verken ons eers Thaba Bosio en kyk uit oor die vlaktes na die Qiloane berg, volgens sommiges die inspirasie vir die kenmerkende Lesotho hoed. Ek vergaap myself aan die berge, berge en berge wat orals le terwyl Alexander Qiloane skets.

Ek koop 'n klein boksie melk in 'n donker algemene handelaar's winkeltjie oppad af met die berg. Daar is niks anders wat enigsins aantreklik lyk nie, en ons is seker ons sal vars groente kan koop by ons volgende bestemming, Semongkong.

Semongkong, die naam van die nabygelee waterval wat iets beteken soos water wat rook, le oor berge en dale in 'n ongelooflike mooi vallei. Die pad na Semongkong was egter 'n nagmerrie. Die laaste 65km is 'n grondpad wat ons sowat drie ure geneem het om te voltooi. Die rit was swaar op ons senuwees maar ongelooflik mooi.

By tye het dit gevoel of daar vir myle geen lewe was nie. Net die berge en die valleie en bossies en rotse en 'n groen Corolla met ons twee in. Skielik sou mens 'n trop skape op die hange van 'n berg sien, dalk met 'n wagter. Hier en daar was 'n paar huisies en 'n kraal. Maar verder omtrent niks.

Ek was verlig om uiteindelik, laat middag, in Semongkong aan te kom en ons tent op te slaan langs 'n gawe stroompie. Ons het besluit om die volgende drie aande hier te oornag. Na die lang pad was ons in geen haas om dit weer aan te durf nie.

Ongelukkig was daar in Semongkong geen vorm van 'n supermark soos wat ons na opsoek was nie. Iets waar mens dalk vars tamaties, pepers, brood of melk kan koop nie, so ons planne om self te kook was 'n redelike onsukses.

Gelukkig het ons 'n french press en koffie gehad asook Pro-vitas en 'n pak muesli. Aandete het ons geneem in die Semongkong Lodge se restaurant. Dit was relatief basies, maar aangenaam.

Tydens ons verblyf hier het ons 'n paar keer die area gaan verken en een oggend gestap na die waterval. Prentjie mooi. Gelyk soos waar die elwe in Lord of the Rings gewoon het. Dit was koud en nat die dag en ons het albei in modder strome beland. Min kan nat voete, modderige skoene en koue weer aantreklik maak, maar die waterval was dit werd gewees.

Ek sal graag weer na Semongkong wil gaan, maar verkieslik in die somer en met 'n beter paar stapskoene.

Ons volgende bestemming is Malealea. 'n Ouer Amerikaanse paar wat werk doen vir die Clinton Foundation ry saam met ons terug in die rigting van Maseru. Die pad is nie korter nie, inteendeel, die reen van die afgelope paar dae maak dit meer onsmaaklik, maar die gawe paartjie se geselsies laat die tyd vinniger verby gaan.

Die pad na Malealea is ruim beter as die pad na Semongkong. Die hele atmosfeer hier is ook ruim anders. Daar is baie meer besoekers en die atmosfeer is besig, gelukkig het iemand gekanselleer en ons kry 'n klein rondawel vir die volgende twee aande.

Malealea le ook soortvan in 'n vallei. Ek se soortvan want in Lesotho wil dit voorkom of alles deel is van valleie en berge, maar die was minder van 'n vallei as Semongkong. In all rigtings kyk mens uit oor berge, terwyl jy self voel jy is dalk op 'n klein bergie.

Ons het steeds nie 'n ordentelike supermark raakgeloop nie en ons is nie lus om aandete saam met die groot groep gaste te eet nie.

Ons besluit om liewers self kos te maak. Maar wat kan mens maak met 'n pakkie pasta en een blik tuna? Op ons laat middag verkenning van die dorpie om Malealea Lodge stop ons in 'n piepklein winkeltjie. Ek koop 'n blikkie chakalaka en hoop om iets te prakseer daarmee.
Die lodge het 'n ordentelike kombuis area waar ons met ons een pot vir aandete 'n pasta dis prakseer, met chakalaka en tuna. Ek gaan niemand probeer oortuig dat dit een van die beste eenvoudige disse ooit was nie, but it hit the spot. En ek het nog die hele tyd 'n bottel wyn in die kar gehad wat ons saam met die Afro-pasta kon geniet.

Waar ons die res van ons tyd redelik op ons eie was en nooit vreeslik met ander kuiermense gekuier het nie was daar by Malealea 'n 'interessante' groep gaste.

Op ons eerste aand het ons gekuier saam twee meisies van die VSA. Alexander was bly om met landsgenote idees te kon deel. Daar was ook 'n uiters aardige man van erens in die Vrystaat wat aanhoudend onnoselhede kwyt geraak het. Hy het 'n lys van veralgemenings rakende Amerikaners gehad wat hy heel onskuldig met ons gedeel het. Ek het soos die gesprek verloop het al verder onder die tafel probeer inkruip, na ek agtergekom het dit help nie om hom reg te help of ignoreer nie.

Die tweede aand (ek kan glad nie onthou wat ons ge-eet het nie) was ons vroeg in die bed en het dus gesprekke met enige vreemde karakters vermy. Ons het die hele dag in die omgewing rondgestap en die uitsigte waardeer, so ons was vroeg reeds vodde.

By ontbyt die volgende more het 'n groepie Afrikaanse tannies in hul vroee vyftigs met ons begin gesels. Die groep het bestaan uit 'n paar susters en vriendinne en een van die susters se man. Hy het besonder onseker gelyk oor sy status as enigste man tussen al die dames. Nie seker of hy moet bekommerd wees of dit geniet nie.

Dit was 'n chipper klomp tannies wat onophoudelik gekwetter het en kort-kort na Alexander oorgeleun het om een of ander iets in sy oor te skinder. In Afrikaans. Wat ek ookal kon hoor het ek vertaal. Ek verstaan nie hoe hulle nooit agtergekom het dat hy nie 'n woord Afrikaans kon spreek nie (behalwe bobbejaantjie), maar die hele situasie het ons goed vermaak.
Na ontbyt, en 'n paar probleme met die kar battery, is ons weg uit Malealea oppad terug na Suid Afrika.

In Mafeteng sien ons vir die eerste keer weer vulstasies en 'n supermark, maar dit is te laat. Ons skiet deur na die Van Rooyens grenspos en bevind onself terug in Suid Afrika.

Vanaf die grens is ons deur die een klein plekkie na die ander oppad na Nieu-Bethesda. Meeste name wat ek nog nooit gehoor het nie. Ons het in Aliwal-Noord by 'n drab supermark, ek dink dit was 'n Checkers, gestop en 'n paar bestandele vir aandete gekoop. Baie simplisties, ek vermoed dit was dalk weer tuna en pasta. Alexander het besluit ons moet Smores maak vir nagereg die aand.

Smores is 'n sjokolade, marshmallow en Tennis beskuitjie affere, gewild by kinders en soms volwassenes. Jy plaas 'n stukkie sjokolade op 'n Tennis beskuitjie. Maak 'n marshmallow warm oor 'n kers (of vuur) en plaas dit bo-op die sjokolade. En dan probeer jy dit eet. Ek se probeer aangesien die storie nogals taai is, maar lekker. En soet!

In Nieu-Bethesda het ons gebly in die backpackers. Netjiese beddens en 'n skoon badkamer, elektrisiteit in die sit area (en res van die huis) en 'n vol kombuis.

Die volgende oggend het ons 'n reuse ontbyt geneem by die restaurant oorkant die backpackers. Heerlike tuisgebakte brood en vars melk met meusli en tuisgemaakte konfyte en baie koffie. Ek dink dit was die eerste 'ordentelike' maal wat ons in meer as 'n week gehad het.

Nieu-Bethesda bly een van my gunsteling plekke in die wereld, nie net die Uil Huis nie. Die hele vallei bekoor my (wie gebruik nog die woord bekoor?).

Ons het net voor twaalf die oggend in die pad geval vir die laasste stuk tot in Kaapstad. Ons het besluit om via George en Mosselbaai te ry.

In Mosselbaai het ons gestop by 'n siwwe restaurant langs die see. Die tema het iets te doen gehad met haaie en seerowers as ek reg onthou. Daar was heeltemal te veel kinders en heeltemal te veel vrouens met lelike haarstyle en die kos was smaakloos en vervelig. Maar ek dink ons was besonder honger na die lang pad vanaf Nieu-Bethesda so dit was ook nie te erg nie.

Ons het laat die aand aangekom in Kaapstad en was vol van vreugde om weer in die dubbelbed te kon kruip en op eie beddegoed te kon slaap. Die volgende dag het ek deurgekom na my bekommerde ouers en vir hulle verduidelik van die vakansie.

Lesotho was ons eerste vakansie saam en het tot 'n mate die toon gegee vir wat voorle. Tussen Lesotho en waar ek nou is was ons al in Maputo, Mosambiek en Swaziland. En ons volgende reis is net om die draai. 'n Road trip (is die ordentelike Afrikaanse woord padreis?) vanaf Los Angeles, California na Albuquerque, New Mexico en daarna Suidoos Asie.

Te oordeel aan die items in die gang kas van ons woonstel het ons ook geleer van beter beplan en vermoed ek daar gaan darem 'n paar meer opwindende etes wees as met ons Lesotho reis.

I'll keep you posted.

Details:

Semongkong Lodge (Lesotho)- www.placeofsmoke.co.ls
Malealea Lodge (Lesotho)- www.malealea.co.ls

No comments: