Vroegoggend, nog lank voor die son oor die rotse skyn, word ons wakker gemaak deur die geskarrel en senu-agtige geraas van 'n groepie quail (is 'n quail 'n patrys in Afrikaans?). Nie 'n probleem nie want ons het vandag ver om te ry.
Eers beur ons om 'n vuur aan die gang te kry vir ons beskuit en koffie ontbyt. Erens in my se 'n stemmetjie dat ons dalk liewers 'n gas braaier moes kry.
Ons eerste stop is by 'n cholla tuin (uitgespreek cho-ya) wat aan die suide kant van die park le. Die cholla wat hier groei se naam is teddiebeer cholla omdat dit van ver af so fuzzy lyk soos 'n teddiedeer.
Maar oppas vir die kaktus word daar orals gewaarsku. Buiten die groter dorings is daar hordes kleintjies en selfs al raak jy net liggies aan hom sal van die kleintjies in jou vel afsuig en brand. En dit is baie moeilik om die kleintjies weer uit te kry as dit eers haak.
Daar is 'n soort rot (wood rat) wat glad nie bang is vir die cholla nie. Die rot gebruik stukke dooie cholla om mee nes te maak. Geen slang of jakkals waag dit om naby hierdie fort te kom nie. Een nes dien as huis vir baie rot families ook. Wanneer een rot die nes verlaat trek 'n nuwe rot gesin in. So het hulle neste gevind wat omtrent 10 000 jaar oud is en nogsteeds bewoon word!
Ons ry verder deur Joshua Tree en die landskap wissel van woestynagtig met plantegroei tot meer droog. Uiteindelik arriveer ons in die dorpie North Shore aan die noordoos kus van die Salton Sea.
Die Salton Sea het sy ontstaan te danke aan die oorvloeding van die Colorado rivier in 1905. Die sout vallei het verander in 'n groot binnelandse see wat aanvanklik gelei het tot ietwat van 'n tourism boom.
Vandag is die enigste tekens daarvan die lee motels en restaurante in die dorp. Ons stop by een so 'n motel wat op 'n stadium gespog het met 'n swembad en borrelbad plus uitsig oor die see.
Dooie visse dryf soms op die wal van die see rond. Hulle vrek blykbaar as gevolg van die sout inhoud in die water wat soms te hoog word. Ons sien hulle nie, maar daar is 'n onsmaaklike reuk in die lug. Plek-plek is daar nog 'n huis of woonwa waar mense myns insiens 'n bepaald vervelige bestaan voer. Ek sien glad nie die attraksie nie.
Ons stop in Yumma, net anderkant die Arizona grens vir middagete en om 'n paar items te koop vir aandete. Alexander gaan quesidillas maak.
Soos ons verder suid ry na die Organ Pipe park wat reg op die grens van die VSA en Mexico le begin ons al meer van die saguaro kaktusse sien.
Hierdie massiewe bome kan 'n paar ton weeg en dit neem selfs tot 75 jaar vir 'n boom om een arm te groei. Die geraamtes van die boom word gebruik in die konstruksie van huis dakke, alhoewel minder vandag as voorheen omdat die boom 'n beskermde spesie is.
Oppad sien ek 'n coyote langs die pad. Ongelukkig kon ons nie stop vir 'n foto nie. Daar is heelwat verkeer op die pad vanaf die grens.
Na ses die middag kom ons uiteindelik by ons bestemming. Daar is weereens niemand by ontvangs nie en die park se ingang is oop so ons het darem nie probleme om in te kom nie. Die son skyn nog helder en ons kry die tent reg vir die aand.
Anders as ons kampeer plek die vorige aand tussen rotse le ons vanaand op die vlaktes omring van cholla, saguaro, ocotillo, turksvy, vaatjie en orrel pyp kaktus. Ek is dadelik spyt dat ons nie meer as een aand hier gaan slaap nie en terwyl ek poskaarte skrywe begin ek plannetjies maak om terug te kom vir langer. Alexander stem saam en oor quesidillas wat gekook is in foelie beplan ons die volgende reis na die deel van die wereld.
Hier is 'n foto van die orrelpyp kaktus wat sy naam aan die park leen. Die kaktus groei oorwegend in Mexico, maar daar is 'n klomp wat aan die kant van die grens ook groei.
Die vaatjie kaktus word baie vetter as die een en is minder volop as die ander soorte. Hulle het besonder indrukwekkende dorings.
Die aand hol 'n kangaroo rot (piepklein ou dingetjie) onder ons tafel deur en die volgende more is daar weer 'n klomp quail rondom ons. Ons sien ook 'n paar gila houtkappers, 'n stofbruin padda en 'n bleek skerpioen wat onder ons tent nes gemaak het. Eeek!
Alexander het vir ons plek bespreek by 'n nuwe motel in Scottsdale, 'n buurt van Phoenix, sodat ons weer kan was en skoon ruik. Oppad stop ons eers by die San Xavier sendingstasie suid van Tuscon.
Die sendingstasie is gebou tussen 1783 en 1797 en het al 'n groot aardbewing oorleef. Ek wens my ma met haar liefde vir kerke en katedrale kan dit sien.
Buite die sendingstasie verkoop 'n groep Navajo Indian (wat is die Afrikaanse term vir 'Native Americans') fry bread. 'n Bol deeg word met die hand uitgerol soos 'n pizza en dan gekook in olie. Die tekstuur en smaak is soos die van 'n vetkoek. Ons bestel 'n Navajo taco (fry bread met chili) en 'n soet fry bread met strooisuiker vir nagereg. My eerste smaak van tradisionele Navajo kos.
Na ons ge-eet het klim ons terug in die warm kar en ry na Scottsdale waar 'n skoon kamer met warm water stort en 'n groot bed plus koffie masjien, internet konneksies en 'n swembad ons inwag.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Ek dink ons praat sommer van Indiane. Ek lees baie lekker aan jou blog. Ek sien uit na jou kommentaar oor Kambodja, ek was mos amper self daar werkend. Steeds besluiteloos oor die reisding, maar as ek so jou blog lees dan wonder ek hoekom sit ek nog vasgevang in my Burger-joppie.
Post a Comment