Thursday, May 31, 2007

Grand Canyon, National Monument, Mesa Verde, Great Sand Dunes

Eeep! Ek se more totsiens vir my rekenaar so ek probeer die laaste deel van ons reis vinnig aframmel voor dan.

Ons eet ontbyt in Scottsdale by 'n pannekoek plekkie. Yum! Alexander stel voor dat ons via die dorpie Sedona so paar uur noord van Phoenix ry oppad na Grand Canyon.

Die omgewing is pragtig. Die hele dorp is omring met sulke rooi kleurige berge. Daar is 'n rivier wat deur die dorp vloei en die bome staan so dig dat mens amper nie die huise kan sien nie. Sedona is lieflik, maar ongelukkig bietjie over run met 'new age hippies' en tacky toerisme winkels. Andersyds kan ek myself maklik sien nes skop in die dorpie.


Ons ry al hoer op in die berge en stop by 'n uitkyk punt. Ek merk 'n pocket gopher op wat sy wange vol plantjies stop.

Net buite die park sien ons 'n paar takbok (die mule deer soort) en pronghorn. Dit is reeds te donker om fotos te neem van die bokkies wat ver van die pad le en gereed maak vir die aand. 'n Bietjie later arriveer ons by Grand Canyon en slaan kamp op. Dit is hier ruim koeler as die ander plekke waar ons was en ons sleep al die beddegoed in die kar na die tent.

Ek het rooster koek probeer maak vir aandete, maar dit was redelik onsuksesvol (alhoewel Alexander taktvol gese het dit is baie lekker).

Ons word wakker geraas deur daai reuse kraaie (ravens) die volgende oggend. Ons pak ons rugsak vir die dag se stap en neem een van die park busse in die rigting van die South Rim. O, by Grand Canyon betaal mens wel ingangs fooie en kampeer geld.

Voor ek Grand Canyon sien het ek bietjie gevoel soos wanneer 'n film vreeslik opge-hype word, bang dat ek teleurgestel sal word (wat gewoonlik gebeur). Maar die oomblik toe ek oor die rant staar en die Canyon voor my sien uitstrek val my mond oop. Die mees ongelooflikste vista sterk voor my uit. Hoendervleis slaan uit op my arms.

Phew! Pragtig, ongelooflik mooi. 'n Moet sien vir enigiemand wat die kans kry.

Terwyl ons staan en staar hoor ek iets bekends. Dit is nie Duits nie en dit is nie Flaams nie, maar Afrikaans! Ek stamp aan Alexander en hy dring aan daarop dat ek soos 'n ordentelike Afrikaanse seun gaan hallo se.

Die man en vrou is van Stellenbosch en het vir 'n jaar in Texas gewoon maar is nou weer oppad terug na SA. Ons ruil vinnig 'n paar stories uit en ek sukkel om op te hou praat noudat ek weer met mense in my eerste taal kan gesels.

'n Rukkie later begin ons ons kort tog af in die Canyon. Ons het besluit om net 'n kort hike te doen. Oppad af sien ons 'n hele paar van die reuse Californiese Condor wat oor ons koppe vlieg. 'n Parmantige eekhoring probeer ons kos te steel tydens 'n ruskans.

Ons het amper 3 myl ver afgestap en toe omgedraai. Die terugstap was uitputtend en na 'n middagete by een van die restaurante het ons gaan rus.

Na 'n warm (en duur) stort geniet ons cocktails by die pragtige ou El Tavor hotel. Aandete is grondboontjie en kerrie sous met noedels. Ek sal in 'n aparte blog bietjie meer verduidelik.

Die volgende oggend kry ons weer beskuit en geniet dit saam met koffie by 'n ander uitkyk punt.

So ruk na ons weg is by Grand Canyon stop ons vinnig by hierdie plekkie. Die naam het ons gevang!

Ons volgende stop is National Monument.


Mooi ne! Ons sou oorspronklik hier oornag het, maar ons is so vroeg hier en dit is effens stowwerig dat ons besluit om voort te ry. Aangetroude familie van Alexander het 'n plekkie in Pagosa Springs in Colorado. Ons druk deur 'n hoekie van Utah en stop laatmiddag in Durango, Colorado, vir koffie en en inkopies.

Laat (heeltemal te laat) kom ons uiteindelik aan in Pagosa en klim in die bed waar ek meeste van die nag rondrol van hongerte. Om een of ander rede het ons die hele dag omtrent niks ge-eet nie.

Die volgende more ry ons weer via Durango na Mesa Verde. Jare gelede het Pueblo groepe hier in die kranse vir hulle kom huise bou. Erens in ek dink die dertiende eeu het hulle opgepak en die huise agter gelaat wat vandag nog staan. Ons het op 'n begeleide toer van die Cliff Palace hier onder gegaan en 'n ander een ook besoek. Baie indrukwekkend!

Die middag ry ons terug Pagosa toe waar ons weer in die huisie slaap en vanaand rus ek baie beter. Toe ons by die huis parkeer is daar drie takbokkies wat rondom die huis staan.


Maandagoggend maak ek gestoomde eier vir ontbyt. Na ontbyt pak ons op en val weer in die pad. Ons volgende stop is Great Sand Dunes. Maar eers moet ons oor die berge waar daar nog heelwat sneeu le.

Ons stop vinnig om 'n paar fotos van die sneeu en 'n stroompie te neem. Erens in die berge steek ons oor die Great Divide. Die water vloei van die kant af weswaarts na die Golf van Mexico.

Later die middag kom ons aan by die duine. Hierdie is die hoogste duine in die VSA en lyk totaal uit plek. As jy jou oog fokus op die duine alleen lyk dit soos erens in Namibie.
Maar as jy verder kyk sien jy die berge in die agtergrond met sneeu op die pieke en denne bome wat tot amper teen die stroom strek. Die stroom is glad nie baie diep nie en word van water voorsien deur die sneeu wat op die berge smelt.


Ons plan was om hier te oornag, maar dit is bitterlik koud en dit lyk of daar nog ysreen gaan val deur die nag. Die swaar weer moedig ons ook nie aan nie. Ons besluit dus om verder te ry na Albuquerque en 'n bietjie vroeer by Alexander se familie aan te kom as beplan.

So bietjie na nege die aand kom ons aan by sy ouerhuis. Alexander se pa maak vir ons hoender sosaties en mielies oor die vuur gaar en 'n rukkie later kruip ons uitgeput in die bed.

En so kom ons eerste VSA road trip tot 'n einde. Vir die volgende week besluit ons om dit baie rustig te neem voor ons volgende groot toer na Suidoos Asie!

Wednesday, May 30, 2007

Oulaas kook



Ek het vanaand gekook vir die gesin. Ons ry oormore almal Taos toe vir die naweek en ek het besef dat ek moontlik nie weer gaan kook tot ons in Vietnam is nie. Wat gaan ek tog doen sonder die kans om te kook of naaldwerk te doen wonder ek.

Elk geval. Vir aandete was daar hoender borsies gevul met grondboontjie botter, soet rissies en 'n tuin slaai.

Om die vulsel te maak is maklik. Braai 'n klein bietjie knoffel en voeg so paar eetlepels grondboontjie botter by. Voeg 'n halwe teelepel cayenne peper by en so twee teelepes soya sous. Roer alles totdat glad is (behalwe as dit growwe botter is, dan gaan dit ook nooit grof wees nie).

Die hoenderborsies (ontbeen) het ek eers halveer en bietjie plat geslaan. Dan word daar 'n bietjie grondboontjie botter lekkerte op 'n borsie gesmeer. Rol die borsie toe en steek vas met tande stokkies, rol in bietjie meel en dit is gereed om gebraai te word.

Braai die borsies bietjie sodat dit ligbruin is aan die kante en plaas dan in 'n oondpan waarin bietjie hoender aftreksel gegooi is. Bedek die pan met foelie en maak 'n paar gaatjies. Kook in 'n voorverhitte oond (180grade) vir so om en by 40-50 minute. Ek het de hoender halfpad deur uitgehaal en omgedraai. Die aftreksel is 'n belangrike deel van die proses want dit keer dat die hoender nie uitdroog nie en heerlik sag uitkom.


Die soetrissies het ek in lang repe gesny en dit vinnig in 'n baie warm pan gebraai met bietjie olyf olie en paprika. Alexander het 'n heerlike groen slaai gemaak.

Ons het te lekker ge-eet.

Vir nagereg was daar sjokolade koek sonder meelblom. 'n Resep wat ek op All Recipes ontdek het is aangevul met 'n bietjie lemoen skil tydens die maak (Alexander het met die oulike idee vorendag gekom). Ek het die al twee keer vantevore probeer en dit bly 'n wenner. Smelt in die mond lekkerte!



Ag, ek gaan die kombuis mis.

Tuesday, May 29, 2007

Laaste van California tot by Scottsdale via San Xavier

Vroegoggend, nog lank voor die son oor die rotse skyn, word ons wakker gemaak deur die geskarrel en senu-agtige geraas van 'n groepie quail (is 'n quail 'n patrys in Afrikaans?). Nie 'n probleem nie want ons het vandag ver om te ry.

Eers beur ons om 'n vuur aan die gang te kry vir ons beskuit en koffie ontbyt. Erens in my se 'n stemmetjie dat ons dalk liewers 'n gas braaier moes kry.


Ons eerste stop is by 'n cholla tuin (uitgespreek cho-ya) wat aan die suide kant van die park le. Die cholla wat hier groei se naam is teddiebeer cholla omdat dit van ver af so fuzzy lyk soos 'n teddiedeer.


Maar oppas vir die kaktus word daar orals gewaarsku. Buiten die groter dorings is daar hordes kleintjies en selfs al raak jy net liggies aan hom sal van die kleintjies in jou vel afsuig en brand. En dit is baie moeilik om die kleintjies weer uit te kry as dit eers haak.


Daar is 'n soort rot (wood rat) wat glad nie bang is vir die cholla nie. Die rot gebruik stukke dooie cholla om mee nes te maak. Geen slang of jakkals waag dit om naby hierdie fort te kom nie. Een nes dien as huis vir baie rot families ook. Wanneer een rot die nes verlaat trek 'n nuwe rot gesin in. So het hulle neste gevind wat omtrent 10 000 jaar oud is en nogsteeds bewoon word!

Ons ry verder deur Joshua Tree en die landskap wissel van woestynagtig met plantegroei tot meer droog. Uiteindelik arriveer ons in die dorpie North Shore aan die noordoos kus van die Salton Sea.


Die Salton Sea het sy ontstaan te danke aan die oorvloeding van die Colorado rivier in 1905. Die sout vallei het verander in 'n groot binnelandse see wat aanvanklik gelei het tot ietwat van 'n tourism boom.

Vandag is die enigste tekens daarvan die lee motels en restaurante in die dorp. Ons stop by een so 'n motel wat op 'n stadium gespog het met 'n swembad en borrelbad plus uitsig oor die see.



Dooie visse dryf soms op die wal van die see rond. Hulle vrek blykbaar as gevolg van die sout inhoud in die water wat soms te hoog word. Ons sien hulle nie, maar daar is 'n onsmaaklike reuk in die lug. Plek-plek is daar nog 'n huis of woonwa waar mense myns insiens 'n bepaald vervelige bestaan voer. Ek sien glad nie die attraksie nie.

Ons stop in Yumma, net anderkant die Arizona grens vir middagete en om 'n paar items te koop vir aandete. Alexander gaan quesidillas maak.

Soos ons verder suid ry na die Organ Pipe park wat reg op die grens van die VSA en Mexico le begin ons al meer van die saguaro kaktusse sien.


Hierdie massiewe bome kan 'n paar ton weeg en dit neem selfs tot 75 jaar vir 'n boom om een arm te groei. Die geraamtes van die boom word gebruik in die konstruksie van huis dakke, alhoewel minder vandag as voorheen omdat die boom 'n beskermde spesie is.

Oppad sien ek 'n coyote langs die pad. Ongelukkig kon ons nie stop vir 'n foto nie. Daar is heelwat verkeer op die pad vanaf die grens.

Na ses die middag kom ons uiteindelik by ons bestemming. Daar is weereens niemand by ontvangs nie en die park se ingang is oop so ons het darem nie probleme om in te kom nie. Die son skyn nog helder en ons kry die tent reg vir die aand.


Anders as ons kampeer plek die vorige aand tussen rotse le ons vanaand op die vlaktes omring van cholla, saguaro, ocotillo, turksvy, vaatjie en orrel pyp kaktus. Ek is dadelik spyt dat ons nie meer as een aand hier gaan slaap nie en terwyl ek poskaarte skrywe begin ek plannetjies maak om terug te kom vir langer. Alexander stem saam en oor quesidillas wat gekook is in foelie beplan ons die volgende reis na die deel van die wereld.

Hier is 'n foto van die orrelpyp kaktus wat sy naam aan die park leen. Die kaktus groei oorwegend in Mexico, maar daar is 'n klomp wat aan die kant van die grens ook groei.


Die vaatjie kaktus word baie vetter as die een en is minder volop as die ander soorte. Hulle het besonder indrukwekkende dorings.


Die aand hol 'n kangaroo rot (piepklein ou dingetjie) onder ons tafel deur en die volgende more is daar weer 'n klomp quail rondom ons. Ons sien ook 'n paar gila houtkappers, 'n stofbruin padda en 'n bleek skerpioen wat onder ons tent nes gemaak het. Eeek!

Alexander het vir ons plek bespreek by 'n nuwe motel in Scottsdale, 'n buurt van Phoenix, sodat ons weer kan was en skoon ruik. Oppad stop ons eers by die San Xavier sendingstasie suid van Tuscon.

Die sendingstasie is gebou tussen 1783 en 1797 en het al 'n groot aardbewing oorleef. Ek wens my ma met haar liefde vir kerke en katedrale kan dit sien.



Buite die sendingstasie verkoop 'n groep Navajo Indian (wat is die Afrikaanse term vir 'Native Americans') fry bread. 'n Bol deeg word met die hand uitgerol soos 'n pizza en dan gekook in olie. Die tekstuur en smaak is soos die van 'n vetkoek. Ons bestel 'n Navajo taco (fry bread met chili) en 'n soet fry bread met strooisuiker vir nagereg. My eerste smaak van tradisionele Navajo kos.

Na ons ge-eet het klim ons terug in die warm kar en ry na Scottsdale waar 'n skoon kamer met warm water stort en 'n groot bed plus koffie masjien, internet konneksies en 'n swembad ons inwag.

Las Vegas na Joshua Tree

Sondag, bietjie meer as twee weke gelede is ons weg uit LA. Na ons die kar gelaai het stop ons vinnig in Larchmont Village vir ‘n laaste latté by Peet’s en vars poppy seed Danish.

Ons is oppad na Albuquerque, New Mexico, waar Alexander groot geword het en meeste van sy familie woon. Pleks van die meer direkte roete, deur Flagstaff in Arizona wat omtrent 12 ure neem, het ons besluit om ‘n road trip te onderneem via Nevada, Arizona, Utah en Colorado.


Oppad na Las Vegas in Nevada stop ons in Baker. 'n Ideale voorbeeld van roadside America. Baker bestaan uit 'n paar motels, eetplekke, vulstasies en die wereld se hoogste termometer.


By die California en Nevada grens word jy begroet deur ‘n paar lelike casinos en dan weer woestyn. So vêr as wat die oog kan.



Ek het gelees dat jy ry en ry en ry en niks sien nie en dan skielik is daar hierdie stad, omring van woestyn en groot niks. Die beste tyd om daar aan te kom is saans sodat jy die ligte in die verte kan sien, maar ons het in die middag ge-arriveer en dit was net so ongelooflik.

Soos ons nader aan die stad kom sien ek ‘n piramide van glas, ‘n replika van die Eiffel Toring en die Chrysler gebou. Spoedig is ons in die stad en besig om deur al die verkeer te sukkel op The Strip.

Las Vegas is oorweldigend. Ongelooflik oorweldigend. Die geboue is groot, die strate breed, die kleure helder en tacky, die mense groot en aardig. Buite die Luxor is daar ‘n replica van die Sphynx wat groter is as die regte een. Die MGM Grand is ‘n reusagtige glas monument wat groen gloei. Venice lyk so te se net soos die oorspronklike Venesië in Italië.

Ons ontmoet ‘n paar vriende van LA in Old Town Vegas. Die sensory overload laat my geskok en verdwaald rond kyk en een van die vriendinne sê vir my, “Bordeaux, I think for you to be able to appreciate all of this you need to be at least a little tipsy.”
Alexander het vir ons ‘n kamer gekry by die Flamingo, ‘n hotel op die Strip wat nog hunker na ‘n ouer Vegas. Van buite flits helder pienk neon ligte die ‘tropiese’ atmosfeer waarna die hotel hunker, maar die kamers binne kan enige ander hotel of motel in enige ander stad in die wêreld wees. Blykbaar is baie van die kamers in hotels eenvoudig terwyl die res totaal over the top is aangesien mense so min tyd binne in hulle kamers spandeer en so baie in die casinos. Die pienk flaminke in die tuin om die swembad maak op vir die drab kamers.


Ons dwaal die aand rond deur ‘n paar van die casinos. Alles ruik na rook en ek kan nie glo hoe baie REUSE mense ek sien nie. Regtig massief, en hartseer. Daardie prentjie van ‘n ou tannie wat by ‘n masjien sit met ‘n sigaret tussen die lippe en hand wat klou aan die slinger is waar. Die cocktail waitresses lyk asof hulle goeie jare lank reeds verby is. Die mense wat kaarte uitdeel by die tafels of hulle lankal moed opgegee het.

Las Vegas, lyk dit, is tegelyke tyd een van die mees opwindendste en hartseerste plekke in die wêreld.

Alexander sê daar is blykbaar ‘n paar dinge wat mens moet doen in Vegas. Speel op die masjiene (check) en kry gratis drankies (check), cocktails langs die swembad (check) en ‘n buffet ete (check).

Na ons reuse buffet midagete Maandag by die Luxor speel ons vinnig ‘n laaste keer op die masjiene en ek wen die groot totaal van $5. Ons stop by ‘n vulstasie waar ek ‘n paar verdwaalde siele sien speel op die slot masjiene in die winkel en dan weer terug na die woestyn.



Ons keer vandag weer terug na California waar ons deur die ongelooflike mooi Mojave woestyn ry oppad na die Joshua Tree nasionale park. Die woestyn is oortrek van die vreeslike mooi Joshua Tree bome wat arms opstrek na bo en yucca plante met hulle skerp blare.



Oppad sien ons ‘n spook dorp en ‘n klein plekkie genaamd Amboy. Daar is tekens dat daar op ‘n stadium ‘n motel was en ‘n diner. Maar nou lyk dit of daar nog net een gesin bly met ‘n parmantige hond wat op die toonbank van die diner rondloop. Ek wag gedwee met twee bottels water tot die eienaar terugkeer van wie weet waar en vir my sê, “You should have just left the cash on the counter dude!”


Ons ry verder deur Wonder Valley. Ek is nie seker van die wonder nie. Al wat ek sien is verdwaalde posbusse en soms ‘n verdwaalde woonwa huis of vaal huisie. En die vlaktes. Die grootste groot vlaktes wat my mond laat oophang (soos nog baie kere op die reis). Ek het gedink die Karoo het groot vlaktes, daar by die Vallei van Verlatenheid. Maar wat ek vandag gesien het is groter, ruim groter as dit.




Laat aand kom ons aan in die park. Ons kampeer by die Jumbo Rock kamp tussen reuse rotse waar die enigste fasiliteit ‘n put toilet is. Anders as die parke blyk dit of daar nie enige heinings is nie en vroeg die aand sien ons die silhouette van ‘n kit fox op die rotse so te se reg langs ons.

Daar is een ander groep kampeerders en ons spandeer die aand in doodse stilte tussen sterre en rotse. Deur die nag word ek wakker en hoor ‘n coyote roep.

Saturday, May 26, 2007

Los Angeles

Ons het gisteraand hier in Albuquerque 'n paar vriende ontmoet by 'n 24-uur diner genaamd The Frontier. 'n Grillerige grot met groot venster en uiters tacky decor. Ons is voor die tyd gewaarsku deur Alexander se swaer om niks te bestel nie. Ek het dus droee mond op die bank (wat meer ongemaklik as bus stiplekke op Flores was) gesit en gewens ek kon weer in Los Angeles wees.

Ongelukkig is LA iets van die verlede vir nou en kan ek maar net pyns oor al die wondere van my kort-termyn huis.

Hier is 'n paar van gunsteling dinge wat ek gaan mis (nie nodig om te sing op die maat van My Favorite Things nie).

Die boustyle en argitektuur. Alles van ou craftsmen-style huise in die Larchmont woonbuurt tot by art deco teaters op Hollywood Blvd. Ek het my vergaap soos ons deur een buurt na die ander ry aan al die huise, woonstelle, winkel sentrums en sels petrol stasies. Op elke blok was daar gewoonlik een huis wat ek begeer het.

Die diversiteit in Los Angeles was ongelooflik. Stephen, 'n huismaat, het my vertel dat die stad (of liewers stede wat LA county opmaak) een van die grootste immigrante populasies huisves in die wereld. Daar was 'n Little Ethiopia, Little Tokyo, China Town, Little Armenia, Thai Town en Korea Town wat ek nou dadelik kan onthou. En dan was daar ook nog areas wat oorwegend van Joods, Russies, El Salvadoriese, Lebanese en Meksikaanse afkoms was, onder andere. Ek dink ons het tussen wat ons self gekook en gaan uit-eet het in een week omtrent elke dag 'n maal van 'n ander land ge-eet.

Onafhanklike koffie winkels soos die wat jy in die Langstraat omgewing in Kaapstad kry was volop. Ons het minstens eenkeer per dag by 'n koffie plek gaan sit en lees en nooit twee keer in 'n ry by dieselfde plek nie. Vanaf Venice Beach se Abbot's Habbit tot by Anutie Em's in Eagle Rock was daar nooit 'n vervelige koffie winkel oomblik nie. Ek gaan hulle almal bitterlik mis.

Die een koffie winkel wat deel was van 'n groep waar ons eenkeer 'n week aangedoen het was die Peet's Coffee and Tea in Larchmont Village, 20 minute se drentel van ons huis. Ek het Alexander soms na werk daarso ontmoet vir 'n oggend koffie en soms het ons gegaan na die weeklikse plaasmark en latte's gekry na ons 'n paar vars items vir die kombuis gekry het. Dit was ons een ritueel en 'n dierbare een daarby.

Daar is geen tekort aan museums in LA nie en die bonus is dat omtrent almal gratis ure of dae het. Met die gevolg dat ons by al die groot kuns museums in die stad kon besoek afle en 'n paar kleiner gallerye ook. My twee hoogtepunte was die prettige La Brea Tar Pits en 'n kleiner gallery waar ons 'n Mark Ryden uitstalling gesien het.

Die Farmer's Market op Fairfax was 'n ander groot trekpunt vir my en ons het gereeld daar gaan drentel en groente of vrugte koop asook ons oe oopgehou vir 'n minor celebrity sighting!
Dit is redelik eenvoudig om 'groen' te leef in 'n groot stad soos LA met al sy plaas markte (sommige permanent soos die een hier bo en ander weekliks) en ook die Trader Joe's kruideniers winkel waar ons hoofsaaklik ons inkopies gedoen het. Die was vir my nog 'n hoogtepunt.

En dan was daar Scoop's Ice Cream. 'n Klein roomys winkeltjie in 'n stil woonbuurt waar die eienaar daagliks met nuwe smake opgekom het soos bruin brood, grondboontjie en seldery saad, nikotien (!), bessie en balsamiese asyn ensovoorts. My gunsteling smaak was die bruin brood ene. Ek het elke keer 'n ander 'toebroodjie' probeer maak. Die grootste bonus van Scoop's was dat die eienaar mens toegelaat het om van alle smake 'n bietjie te probeer. Avontuur vir die tong!

Laastens was daar ons woonstel op die hoek van Beverley Blvd and Alexandria. 'n Ruim drieslaapkamer wat uitgekyk het op 'n kerk met raserige klokke en die agterplaas van 'n eertydse slaghuis waarin twee aaklige honde rondgedrentel het. Op die hoek van die straat was 'n klein winkeltjie waar 'n meisie my altyd in Spaans bedien het. Elke aand het polisie karre en ambulanse in die groot straat afgejaag oppad na een of ander krisis en dikwels het helikopters se ligte by ons venster ingeskyn opsoek na boewe in die buurt. Eienaardig genoeg het ek nooit onveilig gevoel nie. Net gefrustreerd met die geraas.

In ons kombuis het ek talle nuwe respte probeer en tot die gevolgtrekking gekom dat ek dalk gelukkigste sou wees as ek 'n huis met 'n volledig toegeruste kombuis kon he.

Maar vir eers is dit toer-toer-toer en ek wonder waar gaan ek weer 'n Peet's kry of roomys met snaakse smake of 'n kombuis om in te kook.

Hierso is 'n paar fotos van ons tyd in LA.

Buster's Coffee in Pasadena.


La Brea Tar Pits


Sincere Imports in Chinatown


Die kerk oorkant ons gebou.


Beverley Blvd.

Hollywood!


'n Stal by die Farmer's Market