In ‘n tipiese ou twee verdieping koloniale era gebou, kompleet met hortjies vensters en ‘n lang stoep op die straat kant, verder weg van die besiger deel van die hoofstraat, is Luang Phabang se JoMa Bakery. ‘n Moet vir enigiemand wat hou van koffie en atmosfeer.
Die spyskaart is opgeteken op ‘n swartbord agter die toonbank en die vertoon kaste lyk belowend. Kaaskoek, sjokolade-room koek, muffins en skons asook ‘n wye verskeidenheid geurmiddels vir lattes en gestoomde melk. Die mure aan die binnekant is nie geverf nie maar net afgewerk met donkergrys sement wat ‘n ou-wereldse gevoel gee aan die plek.
Ek bestel ‘n vanilla latte en ‘n chocolate chip muffin. Wanneer die reuse beker met die ongelooflikste latte in die hele Laos voor my neergesit word verlaat ‘n klein gilletjie van plesier my lippe. JoMa is die hemel in ‘n andersyds latte-lose Luang Phabang. Die muffin, liggies verhit, stoom voor ons op die koffietafel en oomblikke later smelt die hele heerlikheid weg in my mond. Ek kan myself skop dat ons nie eerder hierheen gekom het nie, maar nou ja.
Die res van ons Donderdag drentel ons rond en handel bietjie epos ensovoorts af. Ons deel ‘n ongelooflike geurige kerrie hoender broodjie by Dao Fa asook baguette met olyf tapinade. Vir ‘n oomblik wonder ek of ons regtig nou al moet weg, alles lyk skielik so ideaal hierso.
Ons is die volgende more, Vrydag, voor ses al uit die bed om te sien hoe die mense van die dorp vir die monnike aalmoese gee en ook om die oggend mark te besoek.
Buite elke huis sit ‘n vrou met ‘n mandjie met kos soos sticky rice en piesangblaar gestoomde dissies. Die monnike, in orde van mees senior tot die jongste, kom in lang saffron rye in die straat afgestap en stop aan by elkeen van die vrouens wat ‘n bietjie kos in sy houer plaas. Die ritueel speel hom elke dag af in hierdie dorp en ook elders waar monnike nie mag werk nie maar staat maak op die goedheid van die plaaslike inwoners. In ruil vir die kos ontvang die dames ‘n seening en kry hulle meriete vir die volgende lewe.
Na al die monnike verdwyn, terug na hul tempels, drentel ons na die plaaslike oggend mark. Hier is geen toeriste of enigiets vir toeriste te sien nie. Orals sit vrounes agter hopies groentes en vrugte en dieper in die mark staan mans agter groot vleis tafels. By een dame koop ons ‘n paar ryspap/pannekoek/plaatkoekies vir ontbyt. Daar is ‘n vulsel van fyngekapte groen ui en mielie pitte in en dit smaak heel lekker.
Ons jaag terug gastehuis toe om betyds te wees vir die tuk-tuk wat ons na bus stasie moet neem, maar die haas was onnodig. Die tuk-tuk kom so laat dat ons amper ons bus verpas en ek besef dat in Laos alles net vyf minute duur. En vyf minute kan ‘n baie lang tyd wees of baie kort, maar meestal langer.
Na heelwat wik en weeg het ons besluit om Vang Vieng, ‘n paar uur noord van die hoofstad, ons volgende bestemming te maak. Op ‘n vorige besoek het ek besluit dat ek nie baie van die plek hou nie. Die atmosfeer herinner te veel aan ‘n meer seedy aspek van Thai eiland lewe. Plesier soekers wat meeste van die tyd of dronk is of in die restaurante rondle en films kyk.
Die dorp le egter in ‘n pragtige area en daar is heelwat aktiwiteite soos kayak, fietsry en binneband dryf op die Nam Xong rivier. Ons stel hoofsaaklik belang in kayak en tubing. Ons is gelukkig en kry ‘n bungalow by ‘n stil gastehuis langs die rivier. Ons voorstoep kyk uit op ‘n tuin met grasperk, die rivier en anderkant die rivier rotsagtige bergpieke, oorhang met oerwoud groei. ‘n Prentjie wat soggens beklmetoon word deur die miswolke wat om die berge hang totdat die son hulle wegdryf.
Vang Vieng self is ‘n vaal dorpie en daar is geen teken van die mooi ouer Laos of koloniale styl huise van Luang Phabang nie. Hier heers moderne Laos huise wat duidelik nie gaan leen het by die kulturele erfenis, hetsy plaaslik of ingevoer, van ander dele van die land nie.
Met die hoofstraat af is daar ‘n horde restaurante, elk met so te se presies dieselfde spyskaart. In elke eetplek word ou episodes van Friends of Family Guy vertoon en die plekke is so ingerig dat jy kan le en TV kyk terwyl jy eet. Die plekke waar Friends vertoon word is oorwegend besiger as die ander en orals volg daai eenvoudige Jennifer Aniston se stem ons.
Die Saterdagoggend huur ons ‘n paar binne bande om met die rivier af te vloei. Ons word ‘n paar kilometers noord van die dorp afgelaai langs die rivier en dryf dan rustig terug verby spits berge en kinders wat in die water plas. En hier en daar probeer iemand ons nader roep om by hulle rivier kroeg te kom aandoen.
Waar die rivier vlakker verby Vang Vieng vloei dring ‘n paar kinders aan om ons uit die water te sleep. ‘n Kaalstert vyf-jarige seuntjie (wat my herinner aan my skraal en bruin broer op daardie ouderdom) gryp my linkerbeen en sleep my tot by die wal.
Terug in die dorp vind ons uit dat dit moontlik is om na die hoofstad Vientiane te gaan deur deels te kayak.
Ons vra ‘n bietjie rond en besluit dan op ‘n agent wat die volgende dag ‘n groep neem. Die prys van US$20 (teenoor die 6 vir die bus) sluit in pad vervoer, kayak saam met instrukteurs, ‘n middagete en ‘n baie meer opwindende manier van reis as per bus.
Oor ‘n vrugte skommel besluit ons op die kayak opsie en ek gaan bespreek vir ons plek vir die volgende more.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
Nice foto's!
Dankie Idiwidi. Is jy woonagtig in Hsinchu?
Post a Comment