



'n Deurmekaar blog met stories van avonture met kook en reis.
Ons tweede aand in Sukhothai lees ek op oor ander plekke wat mens kan besoek in die noordelike dele van Thailand. Soos ek lees begin my oe te glinster tot Alexander vir my vra wat aan die gang is. “Hulle se jy kan ‘n motorfiets huur in Chiang Mai en die Mae Hong Son sirkel op eie stoom afle,” antwoord ek. “Klink na ‘n interessante plan,” se hy, en so begin ek beplan aan ons eerste pad reis in Asie.
Die Mae Hong Son sirkel word meestal per bussie afgele en net ‘n paar plekke word besoek, maar wanneer jy jou eie vervoer het kan jy altyd meer plekke besoek op die roete en dit effens wysig. In Chiang Mai word ‘n kaart verkoop wat opgetrek is deur ‘n man wat die hele Goue Driehoek vol reis per motorfiets. Die kaart dek nie net die sirkel nie maar het ook kaarte op die agterkant van van die belangrikste dorpies op die roete met eet-en-blyplekke.
Ons slaap twee aande in Chiang Mai en ontdek dat alhoewel die slaperige stad oortrek is van grillerige toeriste daar wel verder van die hoof toeriste buurt oulike koffie winkels is wat sterk koffies en ordentelike lattes bedien. Ons bestudeer ons kaart en vind uit oor motorfietse huur.
Woensdagoggend, na ‘n reuse ontbyt van muesli, jogurt en vars vrugte plus sterk hilltribe koffie by Kona Cafe doen ons aan by Mr. Mechanic waar ons ‘n motorfiets huur teen B200 per dag wat basiese versekering insluit.
Aanvanklik is die jong outjie heel gretig om ons te help, maar die oomblik toe die ek die fiets aanskakel word hy oorval met ‘n ongegronde angs en in ‘n skril stemmetjie gil hy “Sir! You sure you drive motorcycle before sir? You sure? Oh sir, please be careful! Oh sir!” Ek se ja en trek weg met hom wat histeries in die agtergrond staan en waai. Wat ‘n verspotte karakter.
Die eerste deel van ons tog uit Chiang Mai verloop sonnig en mooi. En volgens my beramings hoort ons net na een die middag by ons eerste slaapplek, Mae Chaem, te wees. ‘n Massiewe bui reen dwing ons egter om af te trek in die dorpie Chom Thong, om en by ‘n uur buite Chiang Mai. Na ‘n uur se wag lyk dit of dit ligter reen en ons val weer in die pad in die rigting van Doi Inthanon Nasionale Park. Die park is heelwat anders as Khao Yai in sentraal Thailand in die sin dat dit bewoon word deur tradisionele heuwel groepe soos die Hmong en Karen wat dele van die park gebruik vir landbou doeleindes.
Dit reen en reen en reen in Don Inthanon NP.
Ons neem die hoofpad deur die park in ‘n westelike rigting wat stadig maar seker al hoer in die berge inklim en gou word dit duidelik dat my tydsberekening heeltemal uit was. Nie net hou die styltes (ek het nie geweet Thailand is so bergagtig in die noorde nie!) maar hoe verder op ons klim hoe harder reen dit, totdat ons besluit om langs die pad onder ‘n afdak te stop en te wag vir beter weer. Vir die eerste keer in Thailand kry ek koud terwyl ek buite is. Ons het so hoog geklim dat die digte oerwoud groei verander het in meer gespasieerde dennebome en die lug is heelwat dunner hier.
Die rooi motorfiets waarmee ons om en by 500km afgele het.
Die bui reen hou nooit regtig op nie en ons besluit braaf om ons eenvoudige reenjassies aan te trek en verder te ry. Ek baklei met myself omdat ek dit in my kop gekry het om tydens die reen seisoen op ‘n motorfiets ‘n reis te onderneem deur die berge van noordwes Thailand.
Anderkant die park klim ons met eerste en tweede rat, nooit derde, berg af tot in die dooie dorpie van Mae Chaem. Daar is drie plekke om te woon en ons kry ‘n chalet by ‘n ‘oord’ wat duidelik maande laas enigiemand gesien het. Die enigste ander twee plekke bied verblyf aan wat begin by B1000 per nag, so die B350 per nag vir ‘n kamer met, genadiglik, warm water is steel.
'n Bizarre spirit house in Mae Chaem
Ons is druipnat. ek kan omtrent ‘n koppie vol maak met al die water wat ek uit my kouse druk. Die nat items word orals gerangskik in die hoop dat die waaier dit sal droog waai. Na ‘n warm stort en kort slapie besluit ons om die dorp te verken.
Hier is omtrent geen restaurante nie, ons stap op en af met die hoofpad en kry ‘n tafel by ‘n afdak met ‘n yskas en ‘n ‘braaivleis drom.’ Die eienares van die restaurant lyk vreeslik op haar senuwees want sy praat so te se niks Engels nie. Ons verstaan weld at sy beesvleis het en ons besluit om dit te waag. ‘n Bordjie opgesnyde beeslvleis van die braai drom word voor ons neergeplak saam met ‘n doopsousie. Alexander en ek kyk mekaar met bekommerde oe aan en besluit dan om gelyk elkeen ‘n stukkie vleis te probeer. Heerlik! Die vleis proe soos regte braaivleis (wat ek jare laas ge-eet het dink ek) en die sous is geurig.
Ons stop by nog so ‘n tipe afdak met ‘n tafel waar die vriendelike eienaar vir ons twee bakke noedels voorberei. Een met dun noedels en groente, die ander met vet noedles en vark vleis.
Na ete keer ons terug na ons blyplek. Soos ons verby groepies plaaslike Thais stap word hulle gesprekke stil en kan jy iemand hoor se “Farang, farang,” buitelander in Thai.
Die volgende oggend raas ‘n hoenderhaan ons heeltemal te vroeg wakker. Gelukkig reen dit nie juis baie nie, so na ontbyt by die oord trek ons weg na Khun Yuam.
Die pad tussen Mae Chaem en Kun Yuam is ‘n katastrofiese nagmerrie. Daar is meestal min ander verkeer op die pad. Af en toe kom ‘n bakkie by ons verby, maar dit is duidelik dat ons nou in ‘n deel van die land is waar baie min meeste van die tyd gebeur. En omdat daar min padverbruikers is word daar min aandag aan die pad gegee. Dikwels het 'n grondstorting van regs of links 'n deel van die pad weggeneem en ons moet gereeld na een of die ander kant swaai om te keer dat ons nie berg af val of in 'n modderhoop vas ry nie.
Reis en mielie landerye klou aan die hange van heuwels en berge, ons kruis kort-kort ‘n bruggie oor bergstrome en af en toe ry ons deur ‘n klein dorpie waar al die huise nog in die tradisonele styl van hout gebou is en hoog bo die grond staan, ‘n manier om te keer dat huis oorvloed tydens die reen seisoen. Weereens klim en kronkel ons op en op en op in die berge. Halfpad oppad na ons bestemming merk ek op dat die brandstof skielik geval het. Ek neem aan dit is as gevolg van al die steiltes wat ons moet klim in eerste rat. As enige van die vorige dorpies ‘n aanduiding was van dinge wat voorle is ons kanse op brandstof redelik skraal. Nie net is ons laag op brandstof nie, dit het weer hard begin reen en dit is vandag ruim kouer as gister. Ek trek af sodat ons reenjasse kan aantrek en breek die nuus aan Alexander. As daar nie brandstof in die volgende dorpie, Ban Huai Bong, is nie is ons gestrand.
Ons ry rem-rem af tot in die klein vallei waar Huai Bong le. Die ‘dorpie’ bestaan letterlik uit omtrent vyftien huisies. Langs die hoofpad is ‘n bord waarop staan “City Limits Reduce Speed” en minder as honderd meter verder aan die ander kant van die dorp staan dieselfde bord in die rigting van die aankomende verkeer. Ons draai af met die enigste modder straat en ry tot by ‘n huis waar ‘n man op sy motorfiets geparkeer staan. Die oomblik toe hy ons sien ry hy tot teen aan sy huis, spring af en gaan kruip weg agter die trappe. ‘n Jong meisie met ‘n baba en kleintjie langs haar staan en kyk ons skaam aan. Ek beduie dat ons petrol nodig het, kan sy help? Sy giggel net en skud haar kop heen en weer. Weet sy waar ons petrol kan kry, probeer ek beduie. Weereens skud sy net haar kop en roep dan na die jong man wie se enkels ek onder die trappe sien uitloer, maar hy weier om himself te wys. Vir ‘n paar oomblikke staan ons almal ongemaklik en staar na mekaar en dan besluit ek om elders te loop soek.
‘n Paar huise verder stop ‘n bakkie met twee groot dromme agterop en ek hoop vir petrol. Ek beduie weer, maar hulle skud ook net hulle koppe. ‘n Vriend word geroep wat bietjie Engels magtig is. Hy glimlag vriendelik en roep dan na die buurman wat pas op sy motorfiets ingery gekom het. Die verdwyn ook, maar ons vriend (met helder rooi naels) draf oor na sy huis en roep na ‘n oomblik uit dat hy vir ons een Liter kan aanbied vir B40. Die prys by vulstasies is B26 vir ‘n Liter, maar ek was bereid om veel meer te betaal so ons aanvaar die aanbod met ‘n groot sug van verligting. Na die transaksie se hy dat die volgende dorp omtrent 20 kilometer ver is en dat ons daar weer vulstasies sal kry.
Die pad was die hele dag nogals rof, maar dit word al erger met groot stukke wat bestaan uit gruis of modder pad. Soos die naald al verder daal so word die pad ook slegter, maar uiteindelik kyk ons weer uit oor ‘n vallei met ‘n dorpie in die middel. Daar is ‘n paar vulstasies hierso. Wel, soortvan vulstasies.
Langs die pad staan drie groot dromme met ‘n handpomp en pyp wat bo uitsteek. Die verskillende soorte brandstof se kleure verskil en so weet jy watse brandstof om in te gooi. Ek maak vol met 91 en ons hobbel dorp uit, in die reen.
Dit is al of die 1263 waarop ons ry net slegter word hoe nader ons kom aan die afdraai na die (hopelik) beter 108. Die laaste ent gly ons meestal oor seepgladde stukke modder, maar uiteindelik draai ons suid op die 108 en ek maak oop vir die laaste paar kilometers tot in Khun Yuam.
Ons kry ‘n kamer, heeltemal te duur vir die seisoen of standard, by Ban Farang (letterlik Huis Buitelander). 'n MASSIEWE kokkerot skarrel in die badkamer rond en na 'n paar histeriese gille spuit ek hom af met die drei en stop alles toe sodat hy nie weer kan uitkruip nie. Ons los ook pal die badkamer lig aan, net vir ingeval.
Die reen het opgehou en ons drentel rond in nog ‘n dorpie waar ons duidelik die enigste buitelanders is met net een hoofstraat. Die dorpie is darem bietjie groter as Mae Chaem. By ‘n straat winkeltjie koop ons iets wat toegdraai en gebraai is in piesang blaar. ‘n Entjie verder kry ons ‘n stil sitplek om dit te probeer. Weereens is ons effe huiwerig maar ons verwagtinge word ruim oortref. Die gestoomde gereg herinner ietwat aan tamales in tekstuur. Daar is stukke hoender en ‘n soort graan saam met ‘n kerrie geursel. Beslis iets waarmee ge-eksperimenteer moet word!