Tuesday, June 26, 2007
Publieke Vervoer
Na my terugkeer na Suid Afrika vroeg verlede jaar het my ouers in hul dierbaarheid my oorsese suster se motor aan my geleen. Maar een ongelukkige aand terwyl ons huis oppas in Vishoek het iemand besluit om dit Toyota te gebruik vir parte en ek moes skielik vir die eerste keer in my lewe begin gebruik maak van die publieke vervoer sisteem.
Gelukkig was Alexander reeds goed gesout in die gebruik maak van treine en minibus taxis in Kaapstad so ek was vinnig ook gemaklik in die proses. Op 'n manier het die gesteelde kar skielik na 'n seen begin lyk. Ek moes wel bietjie vroeer opstaan in die oggend, maar ek het 'n nuwe deel van die stad en die wereld beleef waarvan ek nooit werklik bewus was nie. Dit was asof ek nou baie meer deel van die stad om my begin voel het. Daar was iets besonders (ek weet dit klink sentimenteel) daarin om die oggend in die minibus te klim en dan in die trein en almal om jou lyk nog half aan die slaap en rus oppad werk toe. En laat middag lyk almal so verlig omdat die dag verby is en Vrydae heers daar groot opgewondenheid want dit is naweek.
Toe ek in Los Angeles aankom het ek dadelik besluit ek wil heelwat gebruik maak van die bus en subweg sisteme. Alexander het wel 'n kar gehad, maar hy was soggens by die werk en ek wou nie heeltyd rondwag tot hy huis toe kom nie. Op my vierde dag het ek my eerste bus roete on die knie gehad en 'n week later het ek die subweg (is dit 'n woord?) begin gebruik.
Ek het myself voorgeneem om uiteindelik ook van Bangkok se publieke vervoer sisteem gebruik te maak. Voorheen het ek wel die BTS (skytrain) gebruik, maar nooit die busse, rivier taxis en bote nie. Teen die tyd wat Alexander in Bangkok gekom het was ek die meester van twee bus roetes, rivier boot stoppe en ek het 'n goeie idee gehad van hoe die kanaal sisteem werk. Ek het dit dus reg gekry om vir langer as 'n week in Bangkok te bly sonder om die taxis (behalwe 'n vroeg oggend na die lughawe) of tuk-tuks te gebruik!
En so reis ek voort, op onlugverkoelde busse, stowwerige songthaews, ongebalanseerde bote en die genade van vreemdelinge.
Sunday, June 17, 2007
Bangkok en vorentoe
Vroeg Woensdagoggend het ek vir Alexander by die lughawe ontmoet. Vir 'n verandering is ek die een wat die stad beter ken en ek dink ek het myself goed van my taak gekwyt om hom rond te wys in hieride mal stad waarvoor ek so lief is.
Vrydag eet ons ontbyt by Roti Mataba. Ons probeer hulle peisang mataba. Dit is basies gebraaide piesang wat toegedraai en danw eer gebraai word binne in 'n dun roti, bedien met kondensmelk. Heerlik!
Ons neem 'n kanaal boot op een van die vele kanale of khlongs wat deur Bangkok vloet na die Jim Thompson huis. 'n Tradisionele Thai huis wat die eertydse sy-magnaa stuk vir stuk van ander van Thailand laat kom en bou het in een van die mooiste tuine in die stad. Vandag huisves die huis ou kunswerke wat hy versamel het en meubels.
Die res van die dag bederf ons onsself deur rond te drentel in luukse departements winkels rondom die Siam area. Later die aand eet ons Lebanees in een van Sukhumvit se oorweegse Midde-oosterse stegies, wat dit amper laat voel of mens in 'n ander deel van die wereld is.
Saterdagoggend skrik ons laat eers wakker en neem dan weer 'nrivier bus en die trein tot by die malse Chatuchak naweek mark. Ons drentel rond deur al die stalletjies en verkyk ons aan alles. Want hier kry mens regtig alles. Tot mopshondjies en meubels.Ek koop 'n piepklein naaldwerk masjien wat lyk soos 'n stapler!
'n Vriendin van my van Taiwan is op die oomblik besig om 'n onderwys graad hier te doen, so ons ontmoet haar laat aand vir ete by nog een van die oulike studente restaurante op Phra Arthit. Later gaan ons vir drankies by 'n plekkie waaroor ons nuuskierig was. Bedags 'n koffiewinkel en saans 'n kroegie. Dit is piepklein maar baie atmosferies en die musiek is nie oorverdowend nie.
Vandag was ons laaste dag in Bangkok. Ons het besluit om dit baie rustig te neem, aangesien die afgelope paar dae nogals besig was. More vertrek ons na die Khao Yai natuur reservaat noord oos hiervandaan. Ek is opgewonde vir die volgende plek op ons lys maar ook bietjie hartseer, soos altyd, om Bangkok te verlaat.
Daar was 'n paar hoogtepunte wat uitgestaan het op hierdie besoek aan Bangkok.
Die rivier boot busse op die Chao Phraya en die kleiner bote op die kanale,gemaklik, atmosferies en goedkoop. Baie meer opwindend as taxis en tuk-tuks. Oulike koffie en eetplekke rondom Phra Arthit wat nie vol raserige toeriste is nie waarvan die beste is Roti-Mataba, Ricks Cafe, Coffee and More en Sripoom. Aantreklike, lugverkoelde winkel sentrums waar die beste van Thai ontwerp waardeer kan word in Siam.
En nou, noord na die oerwoude!
Monday, June 11, 2007
Kanchanaburi en terug in Bangkok
Maar eintlik wil ek skrywe oor Kanchanaburi. Ek het anderdag genoem van die ou trein en die Thonburi stasie in Bangkok waarmee ek na Kanchanaburi gery het. Hier's 'n foto van die trein.
Kanchanaburi is eintlik meer bekend vir die baie POW (Prisoner of War) begrafplase en die spoorweg lyn wat deur die dorp ry tot naby aan die grens van Myanmar (Burma). Die Japanese het tydens die 2de Wereld Oorlog oorlogsgevangenis gebruik om in haaglike omstandighede te werk aan die lyn te werk. Duisende van die POW's en Thai werkers is dood aan siekte en uitputting ensovoorts. Die bekendste besienswaardigheid hier is seker die brug wat oor die Kwai Yay rivier loop en wat vandag genoem word The Bridge Over The River Kwai, soos in die fliek.
Ek het besluit dat ek nie hierheen wou kom vir die groot sirkus wat gemaak word om die naarhede van oorlog nie maar om net te kom ontspan langs die rivier.
Die Kwai Yay vloei sy rustige gang deur Kanchanaburi met die gevolg dat baie mense in huise op die river bly en abie eetplekke ook op die rivier rond dryf. Die plek waar ek gebly het, Sam's River Raft House, is een van vele plekke waar jy so op die rivier kan bly en rustig kan rond klots in jou slaap saans. Hier onder is die plekkei waar ek gebly het. En 'n uitsig oor die rivier.
My eerste dag in Kanchanaburi het ek meestal rond gedrentel en nog probeer om oor my jetlag te kom. Maar laat die Saterdag middag het ek 'n fiets gehuur (B80 vir 2 vol dae!). Toe ek vra vir 'n slot was die dame se antwoord "No looooock. No steaaaaal."
My fiets was pienk (daar was geen ander kleur nie) met 'n mandjie. Ek HOU van mandjies so los my uit.
Ek het Sondagoggend na ontbyt oor gery na die weste kant van die rivier waar ek die Wat Tham Kao Poon besoek. Die trekpunt hier is nege grot kamers waarin allerlei religieuse stukke te sien is. Ek hou nie van grotte nie, maar die plek is helder verlig so ek haal diep asem en stap soortvan rustig deur die bedompige grotkamers.
Die tier staan waak buite die grot, neem ek aan. Die buddha hieronder staan by die ingang van die grot.
Oppad terug ry ek verby hierdie vreemde gesig. In Thailand het omtrent elke huishouding en besigheid 'n spirit house soos die een hier onder op linkerkant. Hulle staan op hoe pilare, ek dink dit moet hoer as die inwoners van die huis staan. Daagliks word offers gemaak vir die geeste wat hier woon en wierook gebrand ensovoorts. Maar die een hier onder en klomp ander het sommer net so langs die pad gele. Sommige le al lank en is aan flarde en ander is bietjie nuwer, maar beslis oppad na 'n stowwerige einde.
Later ry ek verby die befaamde brug en drentel na die oorkant.
Die middag besluit om rivier af te kayak. Ek word op 'n punt 12km op met die rivier afgelaai met kayak, spaan, baadjie en bottel water. Daar is niemand anders saam met my nie so ek vloei af in groot stilte. Langs die rivier sien ek visvangers met die onnatuurlikste blou kleure, 'n swart voel met 'n reuse stert wat tussen takke wegkruip en 'n likkewaan wat van die een bank na die ander swem!
Ek is flou na al die fiets en roei en te veel son en neem vroeg ete by Apple's Guest House. Ek bestel die Ma La Kor Phad Thai Kung. 'n Dis wat bestaan uit gebraaide groen papaya, garnale, grondboontjies, eier en groente. Heerlik! En dit alles geniet ek met 'n vars piesang melkskommel.
Vanoggend voor ek teurg reis na Bangkok eet ek eers 'n bord vars vrugte vir ontbyt saam met my Med-lemon. Erens langs die pad het ek 'n onplesierige verkoue opgedoen.
Ek het die hele dag more om beter te word en dan land Alexander Woensdagoggend. Ek kan nie wag nie! Volgende week die tyd is ons in die oerwoud!
Saturday, June 9, 2007
Wie wil 'n poskaart he?
Die poskaart sal na alle waarskynlikheid vanaf Bangkok wees aangesien die hier in Kanchanaburi (die spelling is toe reg) bietjie vervelig is. So laat hoor wie van my wil hoor!
Friday, June 8, 2007
Na Kanchanburi
Gister vertrek ek vanaf Thonburi stasie in Bangkok, wat niks meer as 'n sinkdak, platvorm and kaartjie kantoor is nie, na Kanchanaburi.
'n Ouer lokomotief trek 4 eenvoudige karre die plus-minus 3 ure weswaarts vanaf Bangkok. Binne in die karre is oranje-bruin houtbanke wat rug-teen-rug gespasieer is. Die vensters word wawyd oopgelos om die lug te sirkuleer, maar dit maak nie juis 'n verskil nie, die lug buitekant is reeds so drukkend.
Erens klim 'n ouer dame (ek skat haar so sesti) op die trein en maak haarself gemaklik op die bankie oorkant myne. Sy sit reg oorkant my sodat ek my bene na links moet skuif om nie heeltyd teen haar te stamp nie. Haar naels (vingers en tone) is hot pink geverf en aan haar swart handsak om haar nek hang 'n plastiek sakkie met opgesnyde stukkies braaivleis.
Later swaai sy beide bene op haar bankie en val vas aan die slaap. Haar lig rooi lippe le effens oop en haar pienk tongetjie steek effens uit. Ek gee 'n moee sug en probeer verder lees.
Net voor 5 kom ons aan in Kanchanaburi en ek verdwaal eers oppad na my gastehuis. 'n Kamer op 'n platform wat dryf op die Kwai rivier. Te heerlik.
Na ek uitgepak het drentel ek nog so bietjie rond en besluit om aandete te neem by een van vele restaurante op Thanon Maenam Kwai (ek dink Thanon beteken straat) waar meeste eetplekke en gastehuis is.
Dit wil voorkom of die mense van Kanchanaburi die woord 'Toerisme' gehoor en met groot oordaad begin gastehuise, eetplekke en internet kafees oopmaak het. Soveel so dat daar nou meer plekke as toeriste is.
Ek is dalk ook net op verkeerde tyd van die jaar hier. 'n Agent vertel my vanoggend dat meeste van die aktiwiteite wat hier gebied word stil staan tans omdat dit buite seisoen is. Tog, dit wil voorkom of hier genoeg is om my besig te hou tot Maandag wanneer ek beplan om terug te keer na Bangkok.
Thursday, June 7, 2007
Bangkok
Jirre mens! Kan ek nie net soos ander normale mense laat slaap nie? Ek het dan na 3 eers in die bed gekom. En dit na ek sedert Dinsdag al aan die vlieg was (dit is nou Donderdag) en eers vanoggend vroeg geland het. Ugh!
Maar daar sit ek in die bed. Haas wakker. So wat doen mens?
Jy trek aan en stap na Rick's Coffee Shop wat nie te ver van die Rambuttri Village Inn waar ek tuisgaan is nie, naby aan die Chao Phraya rivier. Ek het van Rick's gelees in die Rough Guide en dit lyk na die plek waar ek my latte dors kan les.
Rick's is pragtig. Net te pragtig. Die styl is ou-Sjinees met donker hout en prente teen die mure. Hout tafeltjies ensovoorts. Ek bestel 'n piesang crepe en tuisgemaakte plain yoghurt met 'n latte. Yum.
By die tafel oorkant my sit 'n middeljare paartjie van Australie. Daardie aaklige aksent is darem wragtag onmiskenbaar. Die man, met 'n grys baard en grys hare om die bles, dra 'n moulose T-hemp en kort broek. Sy vrou/meisie se hare is bruinrooi gekleur en woes gekrul. Sy het 'n liggroen thai-dye sarong dubbeld gevou om haar middel sodat dit soos 'n mini lyk en dra ook 'n moulose T-hemp om haar tan te wys. Mens is after all net so oud soos wat jy lyk...
Bangkok verander maar verander ook nie. Die een ding wat konstant bly is die reuk. Vir my ruik Bangkok soos uitlaat gasse, vrugte wat oorryp is en in 'n boks le en vis sous. Soms ruik jy wierook wanneer jy verby 'n tempel of spirit house stap.
Ek ontvang 'n 90 minute full body massage wat wondere doen vir my jetlagged lyf en gaan dan vir middagete by Roti Mataba. So ent verder op in dieselfde straat as Rick's. Ek was op my vorige besoek hier vir ontbyt.
Roti Mataba bedien volgens die Lonely Planet Moslem-Thai kos. Dit is maklik om die plek mis te loop. Dit is in 'n baie nou, ou winkeltjie. Aan een kant van die muur staan 'n paar opslaan tafels met ruglose stoeltjies en aan die ander kant is die kombuis. 'n Nou spasie tussenin is oorvol van die mense wat daar werk wat heeltyd meer lyk as klante.
Ek bestel twee klein rotis saam met 'n bakkie viskerrie en ys tee. In my bakkie kerrie dryf daar 'n reuse stuk geel rissie rond wat soebat om ge-eet te word asook lourier blare en 'n hele kardamom pod. Die kleur is 'n diep oranje-rooi en soos ek smul en lees kry ek dit reg om sulke mooi merke in Shalimar the Clown te los.
Sunday, June 3, 2007
Probeer om lig te pak
Oor die afgelope paar weke het ons heelwat gesels oor wat om te pak vir ons reise in Asie. Dit is bietjie van 'n probleem aangesien ons aan die einde van ons reis deur Thailand, Laos en Cambodia beplan om vir 'n jaar in Vietnam te bly. So pak jy klere vir die reis en wat daarna gebeur of net vir die reis?
Ek sukkel nog altyd om lig te pak, maar Alexander het my die afgelope jaar geleer dat mens met minder oor die weg kan kom as wat jy dink.
So ek het besluit om basies in te pak vir die reis en niks meer nie. En ek pak min vir die reis, soveel so dat ek dink my daypack gaan in my groot rugsak pas sodat my hand bagasie net 'n skouer sak gaan wees.
Hier is wat ek pak:
stap skoene
soortvan netjies skoene
plakkies
6paar kouse (enkel en kuit lengte)
3 kortbroeke
2 lang broeke
swembroek
sarong (dien as handdoek)
hooded sweater
2 langmou hemde
1 langmou t-hemp
2 moulose hemde
4 t-hemde
Ek hoop dat enigiemand wat my goed ken se mond oop hang van verbasing oor hoe lig ek reis. Die swaarste items is my boeke, ek het 3 bestel en omdat ek 'n groter sak neem as Alexander dra ek ook ons 3 reis boeke.
More spandeer ek nog 'n dag saam met Alexander se familie. My vlugte het so uitgewerk dat ek eers Dinsdag hier vlieg na LA en dan vandaar via Taiwan na Thailand. Ek land op 'n ongoddelike tyd Donderdag oggend in Bangkok. Gelukkig het ek plek gekry by 'n plek met 'n swembad op die dak so ek kan heerlik ontspan.
Vrydag vertrek ek na Kanchanaburi waar ek vir twee dae gaan bly op 'n tipe raft house op die Kwai rivier. Miskien bly ek sommer die res van my tyd daarso tot Alexander die 13de in Bangkok land. Te lekker!