Monday, August 6, 2007

'n Paar Fotos

Rondom Kratie. Meeste geboue dateer uit 'n paar vorige eras en dekoratiewe elemente soos lug gate en teels het my onverdeelde aandag gehad. Die haarkapper advertensies is orals te sien en in 'n verskydenheid style. Hulle herinner aan die soort haarkapper advertensie borde wat mens in Suid Afrika te siene kry.



Uitsig oor die Mekong teen son onder.

Bote wat vrolik versier is neem jou uit na die dolfyne.



Die enigste foto waarop jy die dolfyne amper kan sien. Verbeelding help.

Fotos

Ons is huidiglik in Phnom Penh. Oor twee dae behoort ons in Vietnam te wees. Ek sukkel bietjie met fotos en sal probeer om binnekort die volgende twee blogs te vergesel van 'n kiekie of twee.
Tot dan.

Saturday, August 4, 2007

Irrawaddy Dolfyne

Agtuur Vrydagoggend word ons opgelaai op motorfietse vir die vyftien kilometer rit na Kampie, ‘n klein dorpie waar ‘n groepie van die skaars vars water dolfyne gereeld gesien word.

Oppad ry ons verby huisies wat almal hoog bo die grond gebou is en met ‘n brug verbind is aan die nou pad. Onder baie van die huise is daar die poele water en onder party is daar selfs roeibote. Heelwat van die huise is, alhoewel eenvoudig, baie mooi versier met rooi teel dakke waarop sement of hout torinkies en voels staan. Van die huise is blou geverf en het kant patrone van hout aan die voorkant, bo die stoep.

Ons betaal die ingangsfooi van US$7 wat ingang en ‘n bootrit op die Mekong insluit. Die ingangsfooi is ‘ nuwe sisteem wat toeriste en boot aktiwiteite in die habitat van die dolfyne meer dolfyn-vriendelik maak.

Ons het onsself vooraf gereed gemaak dat ons na alle waarskynlikheid nie die dolfyne sal sien nie. Dit is reen seisoen, nie die beste tyd om hulle te soek nie en hulle is baie skaars.

Na ‘n paar minute op die water beduie Alexander egter na ‘n plek ‘n paar meter regs van ons waar hy vir ‘n oomblik ‘n dolfyn se rug fin kon sien en ‘n rukkie later sien ek self ‘n dolfyn wat water breek.

Verder op met die rivier en tussen ‘n klomp bome wat tans onder water staan tref die reuse geluk ons egter. Ons sien ‘n dolfyn paar wat vir ‘n kort rukkie kop en dan rug bo die water uitsteek en dan weer verdwyn.

Anders as see dolfyne is die vars water soort baie minder spelerig. Hulle spring nie baldadig uit die water of kom naby jou boot verby geswem nie. Net nou en dan word ‘n kop uitgesteek of ‘n fin gewys.

Ons boot word aan ‘n tak wat net bo die oppervlak van die rivier vasgemaak sodat ons rustig kan sit en kyk. Ons is omring deur dolfyne. Daar is ‘n hele paar paartjies wat om ons swem en sporadies uit kom.

Ons kameras is heeltyd gereed om af te neem, maar die dolfyne gee ons omtrent nie ‘n kans nie. Hulle verdwyn so vinnig weer dat meeste van die fotos wat ek net neem die stil bruin van die Mekong se vloei is. Die oomblik wat hulle aan een kant op kom en verdwyn hoor jy ‘n ander paartjie reg agter jou. Dit is amper asof hulle ons tart.

Ek het darem daarin geslaag om so paar fotos te kry waarop mens net-net die dolfyne kan sien. Aangesien hulle nie naby die bote kom nie en my kamera nie ‘n vreeslike sterk lens het nie is die fotos nie die beste nie, maar dit is darem iets.

Ek besluit om op te gee met die kamera en besluit om eerder net die dolfyne te geniet. By tye is hulle stil en sien ons niks, maar dan verskyn een of twee weer uit die water. Soms sien jy die kop van ‘n dofyn met die vreemde knobbles op die voorhoof en ander kere net ‘n gekurfde grys fin.
Die boot wag geduldig terwyl ons die oomblik geniet en wanneer dit blyk of die groep geskuif het en daar vir ‘n tydjie niks meer aktiwieteit is nie word die boot losgemaak en vloei ons stadig weer rivier af. Eers wanneer ons ‘n veilige afstand is van waar die dolfyne was word die enjins weer aangeskakel.

Die geleentheid was die ingangsfooi meer as werd en ons keer opgewonde en baie tevrede met ons eerste Kambodia wild lewe terug na Kratie.

Wednesday, August 1, 2007

Grondboontjie botter in Kratie

Ek kan nou glad nie onthou of ek genoem het dat ons op Don Khong die heerlikste vis gereg probeer het nie. Vars Mekong vis word gemaal en gemeng met ‘n lemoen gras geursel, toegedraai in piesang blaar en dan gestoom tot die vis gaar is.

Hier is wat ek gaan doen wanneer ons weer ‘n kombuis het. Ek gaan pal eksperimenteer met geregte in mielie en piesang blare stoom. Miskien kan ek uitwerk hoe om ‘n rys en vleis gereg met bobotie geure in mielie blare te stoom. Dit kan net lekker wees.

Ons het 3 dae gelede in Kambodia aangekom. In Vientiane he tons uitgevind dat jy nou ‘n visa met aankoms op die Laos/Kambodia grens kan kry, maar niemand kon ons waarsku dat ons gegroet gaan word deur ‘n spul extortionists in with t-hemde nie. Ons weier aanvanklik om die fooie te betaal vir die aansoekvorms. Wie het al ooit gehoor van so iets! Maar ons besef gou dat ons of betaal of hulle weier om iets te doen.

Ons paspoorte word gefynkam en Alexander word soos ‘n terroris bestudeer, ‘n boek word uitgepluk met name van verdagtes en hulle deursoek dit deeglik voordat ons visas ontvang. Na wat soos ‘n ewigheid voel het ons die visas en kan ons voortry.

Die oomblik wat ons oor die grens is voel alles anders. Die huise is in ‘n heel ander boustyl as in Laos en die wereld lyk baie meer ontbos. Daar is omtrent geen verkeer in hierdie deel van die land en alles voel net meer landelik as in Laos. ‘n Ander reisiger het vir ons vertel hoe ‘leeg’ Kambodia voel. ‘n Nare nagevolg van die Khmer Rouge se regime. Aangesien ek op my vorige besoek net in Siem Reap was het ek dit nooit ervaar nie, maar ek verstaan skielik wat sy bedoel het.

Teen die laat middag arriveer ons in die Kratie (Krah-cheh). Ons plan is om die volgende more ons geluk te toets en sien of ons die baie raar en bedreigde Irrawady dolfyne wat blykbaar in groter hoeveelhede op hierdie deel van die Mekong voorkom.

Ons loop ‘n draai deur die oulike dorpie wat gebou is om ‘n sentrale mark area. Al die geboue is in die Frans-Indosjinese boustyl en geel verblyk deur die tropiese son. Op die hoek van een van die strate rondom die mark is die Star Guesthouse Restaurant. In die Rough Guide word slegs genoem dat dit ‘n lekker plek is om ontbyt te eet, maar niks meer nie.

Star Guesthouse Restaurant is baie meer as net ‘n lekker eetplek. Vir die eerste keer sedert ons weg is uit Vientiane is daar weer ‘n plek met atmosfeer en ‘n spyskaart wat uit hierdie wereld is.

Die vloer teels is ongelooflike mooi ou teeltjies wat in partone uitgele is en die meubels van donker rattan en bamboes. Die spyskaart bied ‘n wye verskeidenheid items soos muesli met jogurt en vrugte, toebroodjies op drie soorte brood met enigiets van grondbontjie botter tot Marmite, Khmer disse met organiese bestandele en vrugte, soja en jogurt skommels.

Ek wil huil van blydskap en bestel dadelik ‘n grondboontjie botter toebroodjie op volgraan brood. Ek vra die kelner of dit moontlik is om grondboontjie en piesang vrugte skommels te maak, maar na ‘n oomblik is hy terug en se dat hulle dit nie kan doen nie omdat dit nie op die spyskaart het nie.

Ek het in LA laas so ‘n skommel gehad en ek is vasberade. Ek verduidelik vir die kelner dit is baie maklik om te maak en hy vra my om saam kombuis toe te kom.

In die kombuis haal die bestuurder al die bestandele uit die yskas en ek verduidelik vir hom om net ‘n paar eetlepels van die hoofbestandeel in te plaas en siedaar. Hy verduidelik dit aan ‘n giggelende meisie en ‘n paar oomblikke later het ons albei ons skommels. Geurig en dik.

Ek het verwag om in hierdie noordoostelike dorpie in Kambodia min te kry wat my sal oortuig om te bly, maar nou het ek rede gevind ek rede om sommer vir ewig te bly.

Monday, July 30, 2007

Suide van Laos en na die Grens

Op my vorige besoeke aan Laos het ek nooit aangedoen in die suide nie. Die gedagte aan lang en ongemaklike busritte op paaie wat wegspoel tydens die reen seisoen het my nie juis aangestaan nie.

Tog was ek nog altyd nuuskierig oor die dun nek van Laos wat le tussen Vietnam en Thailand en eindig teen Kambodia in die Suide. Verbeteringe aan Roete 13 Suid en die geleentheid om nou oor land vanaf Laos na Kambodia te reis het die deel van die land egter baie meer aanloklik laat lyk.

By die bus stasie buite Vientiane kry Alexander vir ons baguettes gevul met paté vir die pad. Ons word beloof dat die busrit slegs ses ure sal neem, maar niemand kruis duime nie. Agt ure, vele stoppe en ‘n gebarste band later kom ons in Savannakhet aan.

Hier moet ek myself onderbreek met inligting rakende padvervoer in Laos wat ek tot dusver nog nie genoem het nie. Dit is ‘n nagmerrie. Die hoofwee is net breed genoeg vir twee groot voertuie om met ‘n bietjie gemak bymekaar verby te ry en baie hobbelrig, selfs op dele wat nuut is. Daar bestaan ‘n (ongeskrewe?) reel dat jy op die kant van die pad wat die beste lyk ry en uitswaai vir wat ookal van voor af kom indien jy aan die ‘verkeerde’ kant is. Ek vermoed dat ‘n klein minderheid bestuurders van enige vorm van voertuig in Laos beskik oor ‘n lisensie of al ooit ‘n bestuurs les bygewoon het. ‘n Bus kan nooit vol genoeg wees nie; daar word gereeld gestop om nog op te laai en vir wie daar nie sitbankies is nie word klein plastiek stoeltjies in die gang geplaas waarop die kan sit. Gemors word by die vensters uitgegooi of op die vloer van die bus met die gevolg dat daar laat middag ‘n reuk van onvars vleis in die bus hang. ‘n Bus wat beloof om lugverkoel te wees is net verkoel vir die eerste paar minute, die res van die pad is dit oop vensters en dalk waaiers. Indien jy beplan om in Laos met die publieke bus te reis, neem in ag dat ‘n oordosis geduld (wat ek nie juis het nie), goeie lees stof en anti-naar baie goed te hulp kom.



Savannakhet is ‘n pragtige ou dorpie langs die Mekong met so baie potensiaal. Daar is orals ou koloniale geboue en meer sosialistiese moderne strukture uit die sestigs asook Sjinese winkelhuise te sien. Ongelukkig is daar ‘n duidelike kort aan ekonomie en dus staan baie van hierdie geboue leeg en in verskillende stadia van verval. Baie is agter gelaat tydens die revolusie in die sewentigs deur welaf Vietnamese en Sjinese wat oor die grens na Thailand gevlug het.


Soos ons verby al die mooi en fassinerende geboue drentel maak ons fantastiese planne om gastehuise, koffiewinkels en eetplekke te open wat toeriste sal lok na die dorp.


Alhoewel ons Savannakhet baie fraai find spandeer ons net een aand hier. Eet en koffie opsies is beperk en ongelukkig is die plaaslike mense ietwat bot en kortaf. Ons drome word gou vergete en ons klim op die ‘four hours’ bus na Pakse.

Ek is heiliglik oortuig daarvan dat ons in Pakse kon wees binne drie ure, maar ons bus het letterlik (ek jok nie) helfte van ons rit gestop om mense op te laai of vir geen duidelike redes nie. Sodra die bus stop om een op te laai klim dertien af om te rook en rond te draai. Die hele pad lank voel dit of ons nooit meer as dertig kilometer per uut ry nie en ook nooit verder as drie kilometer voor ons weer stop nie. Die bus word oor-oorvol gelaai en my geduld en naaste-liefde tot die uiterste beproef.

Ses ure later is ons in Pakse, wat regtig besonder oninspirerend is. Allerlei avontuur aktiwiteite word aangebied, maar die vaalgeit van die dorp spoor ons aan om vroeg die volgende more (waar is ons nou, Sondag?) ‘n boot te neem vir die negentig minute op die Mekong na die uiters slaperige dorpie, Champassak.

Die dorpie bestaan basies uit een lang straat langs die Mekong met ‘n paar huise, vervalle ou koloniale huise en omtrent vyf gastehuise, waarvan dit lyk of net twee werklik oop is. Die hoofrede hoekom ons hier aandoen is om die ruines van Wat Phou te besoek.


Wat Phou is Laos se beste voorbeeld van Angkor era argitektuur, ‘n tempel en moontlik paleis kompleks wat gebou was teen ‘n heuwel agt kilometer suid van Champassak. Die paleise en tempel is nog redelik goed bewaar, alhoewel dele al erg inmekaar getuimel het. Dat dit ‘n UNESCO Wereld Erfenis gebied is help egter dat daar moeite gedoen word om dit te bewaar.

Ons spandeer twee aande in Champassak en besoek die ruines op die middle dag. Daar is werklik niks meer om hier te doen as net ontspan nie en aangesien ons die vorige paar dae vanaf Vientiane heeltyd oppad was maak ons goed gebruik van die geleentheid.

Maar ons is ook nou baie ver van Vientiane met sy lekker lattes en nog verder van Bangkok en Thailand waar ons nog grondboontjie botter op volgraan brood kon kry. Wie weet wanneer ons weer hierdie luukses gaan geniet?

Dinsdag vertrek ons verder suid na Si Phan Don of die 4000 Islands van Laos. Hierso word die vloei van die Mekong onderbreek deur ‘n massa eilande, sommiges piepklein en ander groot genoeg om bewoon te word, kompleet met tempels en rys landerye. Ons neem ‘n boot oor na Don Khong eiland waar ons ons laaste dag of wat in Laos sal spandeer.

Vientiane en 'n nag in 'n Olifant Wagtoring

Vientiane vergelyk tot ‘n mate met Maputo. Met eerste oog opslag is albei bouvallige stede wat nooit herstel het van post-koloniale ontwrigtinge nie, daar is nie besonder baie in die lyn van toeriste aantreklikhede nie en die strate is in swak kondisies. Maar loop ‘n bietjie rond en jy ontdek oulike koffie plekke, pragtige ou koloniale strukture, plaaslike markte en ‘n rustige atmosfeer, effens kosmopolitaans, waarin jy vir ‘n paar dae kan ontspan.



Soos reeds genoem is daar hier ook ‘n JoMa Bakery, maar die atmosfeer binne is meer stedelik en ons stem saam dat dit lyk na die tipe koffie winkel wat baie gemaklik tuis sal wees in Silverlake in Los Angeles of Kloofstraat in Kaapstad. ‘n Hele paar ander bakkerye en koffie winkels is hier te vinde asook duur Europese restaurante en ‘n Dao Fa (selfde as die een in Luang Phabang!).

Ons maak gebruik van die ontspanne atmosfeer deur laat te slaap, heerlike ontbyt te eet, koffie te drink by vele plekkies en darem ook ‘n draai te maak by die That Luang, ‘n reuse goue stupa en Laos se mees heiligste monument.


Ons tweede aand eet ons by een van die vele Mekong restaurante wat saans stelling inneem onder afdakke waar die gewildste item ‘n soort maak-dit-jouself noedel sop is. ‘n potjie kole en kookpot word op die tafel staan gemaak en dan kry jy ‘n bord vol dun droee noedels, vars blaar groentes en chili en knoffel asook die vleis van jou keuse. Alles word in die pot gegooi en gegeur na smaak. Wanneer die vleis gaar is skep jy dit in jou bakkie en eet!



Na ‘n besoek aan die Tourist Information Centre het ons genoeg inligting bymekaar gemaak om uit te werk hoe om besoek te doen aan die nabygelee Phou Khao Khouy Nasionale Park.

Ons neem Woensdag ‘n bus na die dorpie Ban Phabat vanwaar ons stap na Ban Na wat le op die grens van die park. Olifante het ‘n paar jaar gelede al nader aan die dorpie begin beweeg en bietjie probleme veroorsaak vir die plaaslike boere.

‘n Toring is gebou deur natuur kenners naby ‘n natuurlike soutlek vanwaar die olifante bestudeer kon word en daar is besluit om saam met die dorpie ‘n inisiatief te begin wat vir beide die dorpie en olifante voordelig kan wees.

Vir meer inligting oor die projek en hoe dit werk, besoek http://www.trekkingcentrallaos.com/. Dit is ‘n briljante plan en ‘n besondere voorbeeld van hoe mense in ‘n positiewe manier met hul omgewing kan saam werk.


In Ban na word ons voorsien van twee wild gidse wat ons sal neem na die toring en die aand vir ons kook ensovoorts. Na ‘n paar uur se stap deur landerye en woud kom ons die middag by die toring aan. Dit staan reg langs die soutlek met ‘n stroompie wat naby verby vloei. Geriewe is basies, daar is darem ‘n toilet bo in die toring wat werk soos ‘n mandi en ook stoele. In ‘n staal kis word spons matrasse, slaapsakke, kussinkies en muskiet nette gestoor.


Ons spring eers in die stroom om af te koel, maar is gou weer uit toe ons reuse (vyftien sentimeter lange monsters) bloedsuiers in die water sien swem.


Die aand kook die gidse vir ons ‘n berg sticky rys en noedelsop met vark vleis en kool. Omtrent dieselfde wat ons vir middagete in die dorpie ook gekry het. Orals om ons is die nag gevul met die roep van bos uile en in die verte dreun ‘n storm. Ons beddens word neergele en die muskiet nette word vasgemaak aan die stoele om oor ons te hang. Die oombli toe die ligte gedoof word sak vlermuise op die toring toe om die motte wat nog rond vladder te vang.


Ons word nie besoek deur die olifante nie, maar ontvang wel ‘n bui reen en hoor die veraf geblaf van muntjac. Hierdie is beslis die mees avontuurlikste slaap van ons hele reis.

Ontbyt die volgende oggend is so te se dieselfde as aandete en middagete, plus ‘n omelet. Na ontbyt word alles weggepak en stap ons weer met ‘n ander draai terug na Ban Na om net voor twaalf daar aan te kom. Alexander sien langs die pad darem ‘n slang raak en ons word orals omring deur die gesing van bos voels.


‘n Stamperige songthaew rit later en ons is terug in Vientiane. Dit is ons laaste dag hier en ons besef dat goeie koffie en Westerse kos in die suide van Laos dalk nie meer ‘n opsie gaan wees nie. Dus spandeer ons die laaste aand letterlik tussen JoMa en Dao Fa met lattes, gegeurde en gestoomde melk, slaaie en brownies. Het ek al genoem dat ek, soos my ma, gemaak is vir die lekker lewe?

Met tevrede siele klim ons die aand in die bed. Ons vertrek more oggend heeltemal te vroeg na Savannakhet en die suide van Laos waar ek nog nie vantevore was nie en nuuskierig is om te sien.

Friday, July 27, 2007

Op die Nam Lik na Vientianne

Sondagoggend staan ons vroeg op en neem ontbyt by die gastehuis, waar so te se die hele familie vasgenael le voor die TV. ‘n Epiese Thai sepie is aan die gang, die soort waar mitiese kreature verlydelikhede fluister in die ore van skone prinsesse en slinkse hofdames veg om die eer van die aantreklike prins.

Die toer organiseerder het gevra dat ons hulle 9:30 by die hoofpad ontmoet, maar weereens wag ons ‘n hele paar ‘vyf minute’ voordat ‘n songthaew vol bagasie en met kayakke op die dak by ons stil hou. Al die ander mense is reeds opgelaai en ons val in die pad na die beginpunt.

Ons ry sowat ‘n uur uur suid van Vang Vieng na die plek op die Nam Lik rivier waar ons eers geleer word hoe om deur rapids te roei. Daar le ‘n graad drie een voor. Ons trek reddingsbaadjies en helmits aan en hop in die kayakke. Ek en Alexander deel een.


Die rit begin rustig genoeg, behalwe vir een van die instrukteurs wat soos ‘n maniak verby almal roei en hulle dan met sy spaan nat spat. Aanvanklik sien ons ‘n paar hitte en vistermanne angs die rivier, maar mettertyd verdwyn enige tekens van mense en word ons omring deur oerwoud.


Reuse bome staan op hulle wortels langs die wal van die rivier, al die grond is lank reeds weggespoel. Rotsbanke vol krake en barste lyk of hulle aanmekaar gehou word deur rotsvye wat oor hulle groei. Verder weg is daar oortrekte heuwels in verskillende dieptes van groen.

Voor ons deur die eerste rapid gaan word on seers almal bymekaar gemaak en gewaarsku om in die middle te bly en te roei-roei-roei, voor ons een vir een deurgaan. Ek is al voorheen op binnebande deur soortgelyk rapids, maar nog nooit op ‘n kayak nie, ons bly gelukkig almal regop en ‘n ent later arriveer ons by ons middagete stop.


Die instrukteurs het vinnig ‘n vuur aan die gang en braai vir ons geurige sosaties wat ons eet saam met ‘n berg rys en baguette. Terwyl daar gebraai word swem ons bietjie in die rivier en geniet dan ons ete voordat ‘n bui reen ons nog natter en meer bedremmeld laat lyk.


Die groep wat saam met ons kayak maak vir heerlike geselskap en ons kuier lekker met veral die Belgiese en Hongaarse paartjies. Na twee is ons weer terug op die water vir die laaste ent op die rivier. Oppad kry ons die kans om uit ons kayakke weer in die water te spring en af te koel.

‘n Uur later arriveer ons by ons kayak eindpunt. ‘n Songthaew met ons bagasie wag hier om ons die laaste uur of wat na Vientiane te vervoer. Langs die pad breek die egter en ons word gelaai op ‘n oorvol bus wat ons ‘n uur later aflaai in die hoofstad. Uiteindelik is ons in Vientiane!

Ons vind gou uit dat daar hier ook ‘n JoMa tak is en haas onsself, flou van son en roei, hierheen vir koffie en ‘n varsgebakte stuk lemon bar.

Terwyl ons peusel en drink stem ons albei saam, dit was beslis een van ons hoogtepunte vir Laos.