Monday, July 30, 2007

Suide van Laos en na die Grens

Op my vorige besoeke aan Laos het ek nooit aangedoen in die suide nie. Die gedagte aan lang en ongemaklike busritte op paaie wat wegspoel tydens die reen seisoen het my nie juis aangestaan nie.

Tog was ek nog altyd nuuskierig oor die dun nek van Laos wat le tussen Vietnam en Thailand en eindig teen Kambodia in die Suide. Verbeteringe aan Roete 13 Suid en die geleentheid om nou oor land vanaf Laos na Kambodia te reis het die deel van die land egter baie meer aanloklik laat lyk.

By die bus stasie buite Vientiane kry Alexander vir ons baguettes gevul met paté vir die pad. Ons word beloof dat die busrit slegs ses ure sal neem, maar niemand kruis duime nie. Agt ure, vele stoppe en ‘n gebarste band later kom ons in Savannakhet aan.

Hier moet ek myself onderbreek met inligting rakende padvervoer in Laos wat ek tot dusver nog nie genoem het nie. Dit is ‘n nagmerrie. Die hoofwee is net breed genoeg vir twee groot voertuie om met ‘n bietjie gemak bymekaar verby te ry en baie hobbelrig, selfs op dele wat nuut is. Daar bestaan ‘n (ongeskrewe?) reel dat jy op die kant van die pad wat die beste lyk ry en uitswaai vir wat ookal van voor af kom indien jy aan die ‘verkeerde’ kant is. Ek vermoed dat ‘n klein minderheid bestuurders van enige vorm van voertuig in Laos beskik oor ‘n lisensie of al ooit ‘n bestuurs les bygewoon het. ‘n Bus kan nooit vol genoeg wees nie; daar word gereeld gestop om nog op te laai en vir wie daar nie sitbankies is nie word klein plastiek stoeltjies in die gang geplaas waarop die kan sit. Gemors word by die vensters uitgegooi of op die vloer van die bus met die gevolg dat daar laat middag ‘n reuk van onvars vleis in die bus hang. ‘n Bus wat beloof om lugverkoel te wees is net verkoel vir die eerste paar minute, die res van die pad is dit oop vensters en dalk waaiers. Indien jy beplan om in Laos met die publieke bus te reis, neem in ag dat ‘n oordosis geduld (wat ek nie juis het nie), goeie lees stof en anti-naar baie goed te hulp kom.



Savannakhet is ‘n pragtige ou dorpie langs die Mekong met so baie potensiaal. Daar is orals ou koloniale geboue en meer sosialistiese moderne strukture uit die sestigs asook Sjinese winkelhuise te sien. Ongelukkig is daar ‘n duidelike kort aan ekonomie en dus staan baie van hierdie geboue leeg en in verskillende stadia van verval. Baie is agter gelaat tydens die revolusie in die sewentigs deur welaf Vietnamese en Sjinese wat oor die grens na Thailand gevlug het.


Soos ons verby al die mooi en fassinerende geboue drentel maak ons fantastiese planne om gastehuise, koffiewinkels en eetplekke te open wat toeriste sal lok na die dorp.


Alhoewel ons Savannakhet baie fraai find spandeer ons net een aand hier. Eet en koffie opsies is beperk en ongelukkig is die plaaslike mense ietwat bot en kortaf. Ons drome word gou vergete en ons klim op die ‘four hours’ bus na Pakse.

Ek is heiliglik oortuig daarvan dat ons in Pakse kon wees binne drie ure, maar ons bus het letterlik (ek jok nie) helfte van ons rit gestop om mense op te laai of vir geen duidelike redes nie. Sodra die bus stop om een op te laai klim dertien af om te rook en rond te draai. Die hele pad lank voel dit of ons nooit meer as dertig kilometer per uut ry nie en ook nooit verder as drie kilometer voor ons weer stop nie. Die bus word oor-oorvol gelaai en my geduld en naaste-liefde tot die uiterste beproef.

Ses ure later is ons in Pakse, wat regtig besonder oninspirerend is. Allerlei avontuur aktiwiteite word aangebied, maar die vaalgeit van die dorp spoor ons aan om vroeg die volgende more (waar is ons nou, Sondag?) ‘n boot te neem vir die negentig minute op die Mekong na die uiters slaperige dorpie, Champassak.

Die dorpie bestaan basies uit een lang straat langs die Mekong met ‘n paar huise, vervalle ou koloniale huise en omtrent vyf gastehuise, waarvan dit lyk of net twee werklik oop is. Die hoofrede hoekom ons hier aandoen is om die ruines van Wat Phou te besoek.


Wat Phou is Laos se beste voorbeeld van Angkor era argitektuur, ‘n tempel en moontlik paleis kompleks wat gebou was teen ‘n heuwel agt kilometer suid van Champassak. Die paleise en tempel is nog redelik goed bewaar, alhoewel dele al erg inmekaar getuimel het. Dat dit ‘n UNESCO Wereld Erfenis gebied is help egter dat daar moeite gedoen word om dit te bewaar.

Ons spandeer twee aande in Champassak en besoek die ruines op die middle dag. Daar is werklik niks meer om hier te doen as net ontspan nie en aangesien ons die vorige paar dae vanaf Vientiane heeltyd oppad was maak ons goed gebruik van die geleentheid.

Maar ons is ook nou baie ver van Vientiane met sy lekker lattes en nog verder van Bangkok en Thailand waar ons nog grondboontjie botter op volgraan brood kon kry. Wie weet wanneer ons weer hierdie luukses gaan geniet?

Dinsdag vertrek ons verder suid na Si Phan Don of die 4000 Islands van Laos. Hierso word die vloei van die Mekong onderbreek deur ‘n massa eilande, sommiges piepklein en ander groot genoeg om bewoon te word, kompleet met tempels en rys landerye. Ons neem ‘n boot oor na Don Khong eiland waar ons ons laaste dag of wat in Laos sal spandeer.

Vientiane en 'n nag in 'n Olifant Wagtoring

Vientiane vergelyk tot ‘n mate met Maputo. Met eerste oog opslag is albei bouvallige stede wat nooit herstel het van post-koloniale ontwrigtinge nie, daar is nie besonder baie in die lyn van toeriste aantreklikhede nie en die strate is in swak kondisies. Maar loop ‘n bietjie rond en jy ontdek oulike koffie plekke, pragtige ou koloniale strukture, plaaslike markte en ‘n rustige atmosfeer, effens kosmopolitaans, waarin jy vir ‘n paar dae kan ontspan.



Soos reeds genoem is daar hier ook ‘n JoMa Bakery, maar die atmosfeer binne is meer stedelik en ons stem saam dat dit lyk na die tipe koffie winkel wat baie gemaklik tuis sal wees in Silverlake in Los Angeles of Kloofstraat in Kaapstad. ‘n Hele paar ander bakkerye en koffie winkels is hier te vinde asook duur Europese restaurante en ‘n Dao Fa (selfde as die een in Luang Phabang!).

Ons maak gebruik van die ontspanne atmosfeer deur laat te slaap, heerlike ontbyt te eet, koffie te drink by vele plekkies en darem ook ‘n draai te maak by die That Luang, ‘n reuse goue stupa en Laos se mees heiligste monument.


Ons tweede aand eet ons by een van die vele Mekong restaurante wat saans stelling inneem onder afdakke waar die gewildste item ‘n soort maak-dit-jouself noedel sop is. ‘n potjie kole en kookpot word op die tafel staan gemaak en dan kry jy ‘n bord vol dun droee noedels, vars blaar groentes en chili en knoffel asook die vleis van jou keuse. Alles word in die pot gegooi en gegeur na smaak. Wanneer die vleis gaar is skep jy dit in jou bakkie en eet!



Na ‘n besoek aan die Tourist Information Centre het ons genoeg inligting bymekaar gemaak om uit te werk hoe om besoek te doen aan die nabygelee Phou Khao Khouy Nasionale Park.

Ons neem Woensdag ‘n bus na die dorpie Ban Phabat vanwaar ons stap na Ban Na wat le op die grens van die park. Olifante het ‘n paar jaar gelede al nader aan die dorpie begin beweeg en bietjie probleme veroorsaak vir die plaaslike boere.

‘n Toring is gebou deur natuur kenners naby ‘n natuurlike soutlek vanwaar die olifante bestudeer kon word en daar is besluit om saam met die dorpie ‘n inisiatief te begin wat vir beide die dorpie en olifante voordelig kan wees.

Vir meer inligting oor die projek en hoe dit werk, besoek http://www.trekkingcentrallaos.com/. Dit is ‘n briljante plan en ‘n besondere voorbeeld van hoe mense in ‘n positiewe manier met hul omgewing kan saam werk.


In Ban na word ons voorsien van twee wild gidse wat ons sal neem na die toring en die aand vir ons kook ensovoorts. Na ‘n paar uur se stap deur landerye en woud kom ons die middag by die toring aan. Dit staan reg langs die soutlek met ‘n stroompie wat naby verby vloei. Geriewe is basies, daar is darem ‘n toilet bo in die toring wat werk soos ‘n mandi en ook stoele. In ‘n staal kis word spons matrasse, slaapsakke, kussinkies en muskiet nette gestoor.


Ons spring eers in die stroom om af te koel, maar is gou weer uit toe ons reuse (vyftien sentimeter lange monsters) bloedsuiers in die water sien swem.


Die aand kook die gidse vir ons ‘n berg sticky rys en noedelsop met vark vleis en kool. Omtrent dieselfde wat ons vir middagete in die dorpie ook gekry het. Orals om ons is die nag gevul met die roep van bos uile en in die verte dreun ‘n storm. Ons beddens word neergele en die muskiet nette word vasgemaak aan die stoele om oor ons te hang. Die oombli toe die ligte gedoof word sak vlermuise op die toring toe om die motte wat nog rond vladder te vang.


Ons word nie besoek deur die olifante nie, maar ontvang wel ‘n bui reen en hoor die veraf geblaf van muntjac. Hierdie is beslis die mees avontuurlikste slaap van ons hele reis.

Ontbyt die volgende oggend is so te se dieselfde as aandete en middagete, plus ‘n omelet. Na ontbyt word alles weggepak en stap ons weer met ‘n ander draai terug na Ban Na om net voor twaalf daar aan te kom. Alexander sien langs die pad darem ‘n slang raak en ons word orals omring deur die gesing van bos voels.


‘n Stamperige songthaew rit later en ons is terug in Vientiane. Dit is ons laaste dag hier en ons besef dat goeie koffie en Westerse kos in die suide van Laos dalk nie meer ‘n opsie gaan wees nie. Dus spandeer ons die laaste aand letterlik tussen JoMa en Dao Fa met lattes, gegeurde en gestoomde melk, slaaie en brownies. Het ek al genoem dat ek, soos my ma, gemaak is vir die lekker lewe?

Met tevrede siele klim ons die aand in die bed. Ons vertrek more oggend heeltemal te vroeg na Savannakhet en die suide van Laos waar ek nog nie vantevore was nie en nuuskierig is om te sien.

Friday, July 27, 2007

Op die Nam Lik na Vientianne

Sondagoggend staan ons vroeg op en neem ontbyt by die gastehuis, waar so te se die hele familie vasgenael le voor die TV. ‘n Epiese Thai sepie is aan die gang, die soort waar mitiese kreature verlydelikhede fluister in die ore van skone prinsesse en slinkse hofdames veg om die eer van die aantreklike prins.

Die toer organiseerder het gevra dat ons hulle 9:30 by die hoofpad ontmoet, maar weereens wag ons ‘n hele paar ‘vyf minute’ voordat ‘n songthaew vol bagasie en met kayakke op die dak by ons stil hou. Al die ander mense is reeds opgelaai en ons val in die pad na die beginpunt.

Ons ry sowat ‘n uur uur suid van Vang Vieng na die plek op die Nam Lik rivier waar ons eers geleer word hoe om deur rapids te roei. Daar le ‘n graad drie een voor. Ons trek reddingsbaadjies en helmits aan en hop in die kayakke. Ek en Alexander deel een.


Die rit begin rustig genoeg, behalwe vir een van die instrukteurs wat soos ‘n maniak verby almal roei en hulle dan met sy spaan nat spat. Aanvanklik sien ons ‘n paar hitte en vistermanne angs die rivier, maar mettertyd verdwyn enige tekens van mense en word ons omring deur oerwoud.


Reuse bome staan op hulle wortels langs die wal van die rivier, al die grond is lank reeds weggespoel. Rotsbanke vol krake en barste lyk of hulle aanmekaar gehou word deur rotsvye wat oor hulle groei. Verder weg is daar oortrekte heuwels in verskillende dieptes van groen.

Voor ons deur die eerste rapid gaan word on seers almal bymekaar gemaak en gewaarsku om in die middle te bly en te roei-roei-roei, voor ons een vir een deurgaan. Ek is al voorheen op binnebande deur soortgelyk rapids, maar nog nooit op ‘n kayak nie, ons bly gelukkig almal regop en ‘n ent later arriveer ons by ons middagete stop.


Die instrukteurs het vinnig ‘n vuur aan die gang en braai vir ons geurige sosaties wat ons eet saam met ‘n berg rys en baguette. Terwyl daar gebraai word swem ons bietjie in die rivier en geniet dan ons ete voordat ‘n bui reen ons nog natter en meer bedremmeld laat lyk.


Die groep wat saam met ons kayak maak vir heerlike geselskap en ons kuier lekker met veral die Belgiese en Hongaarse paartjies. Na twee is ons weer terug op die water vir die laaste ent op die rivier. Oppad kry ons die kans om uit ons kayakke weer in die water te spring en af te koel.

‘n Uur later arriveer ons by ons kayak eindpunt. ‘n Songthaew met ons bagasie wag hier om ons die laaste uur of wat na Vientiane te vervoer. Langs die pad breek die egter en ons word gelaai op ‘n oorvol bus wat ons ‘n uur later aflaai in die hoofstad. Uiteindelik is ons in Vientiane!

Ons vind gou uit dat daar hier ook ‘n JoMa tak is en haas onsself, flou van son en roei, hierheen vir koffie en ‘n varsgebakte stuk lemon bar.

Terwyl ons peusel en drink stem ons albei saam, dit was beslis een van ons hoogtepunte vir Laos.

Laaste van Luang Phabang en Vang Vieng

In ‘n tipiese ou twee verdieping koloniale era gebou, kompleet met hortjies vensters en ‘n lang stoep op die straat kant, verder weg van die besiger deel van die hoofstraat, is Luang Phabang se JoMa Bakery. ‘n Moet vir enigiemand wat hou van koffie en atmosfeer.

Die spyskaart is opgeteken op ‘n swartbord agter die toonbank en die vertoon kaste lyk belowend. Kaaskoek, sjokolade-room koek, muffins en skons asook ‘n wye verskeidenheid geurmiddels vir lattes en gestoomde melk. Die mure aan die binnekant is nie geverf nie maar net afgewerk met donkergrys sement wat ‘n ou-wereldse gevoel gee aan die plek.

Ek bestel ‘n vanilla latte en ‘n chocolate chip muffin. Wanneer die reuse beker met die ongelooflikste latte in die hele Laos voor my neergesit word verlaat ‘n klein gilletjie van plesier my lippe. JoMa is die hemel in ‘n andersyds latte-lose Luang Phabang. Die muffin, liggies verhit, stoom voor ons op die koffietafel en oomblikke later smelt die hele heerlikheid weg in my mond. Ek kan myself skop dat ons nie eerder hierheen gekom het nie, maar nou ja.

Die res van ons Donderdag drentel ons rond en handel bietjie epos ensovoorts af. Ons deel ‘n ongelooflike geurige kerrie hoender broodjie by Dao Fa asook baguette met olyf tapinade. Vir ‘n oomblik wonder ek of ons regtig nou al moet weg, alles lyk skielik so ideaal hierso.

Ons is die volgende more, Vrydag, voor ses al uit die bed om te sien hoe die mense van die dorp vir die monnike aalmoese gee en ook om die oggend mark te besoek.

Buite elke huis sit ‘n vrou met ‘n mandjie met kos soos sticky rice en piesangblaar gestoomde dissies. Die monnike, in orde van mees senior tot die jongste, kom in lang saffron rye in die straat afgestap en stop aan by elkeen van die vrouens wat ‘n bietjie kos in sy houer plaas. Die ritueel speel hom elke dag af in hierdie dorp en ook elders waar monnike nie mag werk nie maar staat maak op die goedheid van die plaaslike inwoners. In ruil vir die kos ontvang die dames ‘n seening en kry hulle meriete vir die volgende lewe.



Na al die monnike verdwyn, terug na hul tempels, drentel ons na die plaaslike oggend mark. Hier is geen toeriste of enigiets vir toeriste te sien nie. Orals sit vrounes agter hopies groentes en vrugte en dieper in die mark staan mans agter groot vleis tafels. By een dame koop ons ‘n paar ryspap/pannekoek/plaatkoekies vir ontbyt. Daar is ‘n vulsel van fyngekapte groen ui en mielie pitte in en dit smaak heel lekker.

Ons jaag terug gastehuis toe om betyds te wees vir die tuk-tuk wat ons na bus stasie moet neem, maar die haas was onnodig. Die tuk-tuk kom so laat dat ons amper ons bus verpas en ek besef dat in Laos alles net vyf minute duur. En vyf minute kan ‘n baie lang tyd wees of baie kort, maar meestal langer.

Na heelwat wik en weeg het ons besluit om Vang Vieng, ‘n paar uur noord van die hoofstad, ons volgende bestemming te maak. Op ‘n vorige besoek het ek besluit dat ek nie baie van die plek hou nie. Die atmosfeer herinner te veel aan ‘n meer seedy aspek van Thai eiland lewe. Plesier soekers wat meeste van die tyd of dronk is of in die restaurante rondle en films kyk.

Die dorp le egter in ‘n pragtige area en daar is heelwat aktiwiteite soos kayak, fietsry en binneband dryf op die Nam Xong rivier. Ons stel hoofsaaklik belang in kayak en tubing. Ons is gelukkig en kry ‘n bungalow by ‘n stil gastehuis langs die rivier. Ons voorstoep kyk uit op ‘n tuin met grasperk, die rivier en anderkant die rivier rotsagtige bergpieke, oorhang met oerwoud groei. ‘n Prentjie wat soggens beklmetoon word deur die miswolke wat om die berge hang totdat die son hulle wegdryf.


Vang Vieng self is ‘n vaal dorpie en daar is geen teken van die mooi ouer Laos of koloniale styl huise van Luang Phabang nie. Hier heers moderne Laos huise wat duidelik nie gaan leen het by die kulturele erfenis, hetsy plaaslik of ingevoer, van ander dele van die land nie.

Met die hoofstraat af is daar ‘n horde restaurante, elk met so te se presies dieselfde spyskaart. In elke eetplek word ou episodes van Friends of Family Guy vertoon en die plekke is so ingerig dat jy kan le en TV kyk terwyl jy eet. Die plekke waar Friends vertoon word is oorwegend besiger as die ander en orals volg daai eenvoudige Jennifer Aniston se stem ons.

Die Saterdagoggend huur ons ‘n paar binne bande om met die rivier af te vloei. Ons word ‘n paar kilometers noord van die dorp afgelaai langs die rivier en dryf dan rustig terug verby spits berge en kinders wat in die water plas. En hier en daar probeer iemand ons nader roep om by hulle rivier kroeg te kom aandoen.

Waar die rivier vlakker verby Vang Vieng vloei dring ‘n paar kinders aan om ons uit die water te sleep. ‘n Kaalstert vyf-jarige seuntjie (wat my herinner aan my skraal en bruin broer op daardie ouderdom) gryp my linkerbeen en sleep my tot by die wal.

Terug in die dorp vind ons uit dat dit moontlik is om na die hoofstad Vientiane te gaan deur deels te kayak.

Ons vra ‘n bietjie rond en besluit dan op ‘n agent wat die volgende dag ‘n groep neem. Die prys van US$20 (teenoor die 6 vir die bus) sluit in pad vervoer, kayak saam met instrukteurs, ‘n middagete en ‘n baie meer opwindende manier van reis as per bus.

Oor ‘n vrugte skommel besluit ons op die kayak opsie en ek gaan bespreek vir ons plek vir die volgende more.

Thursday, July 12, 2007

Poskaart

My gereeldste leser met die langste pos adres in die hele wereld, Amme, kry 'n poskaart van Laos. Een van die is joune Amme!

Stadige boot na Luang Phabang en eerste dae in Laos

Vrydag vertrek ons per bus noord-oos na Chiang Khong langs die Mekong en rivier waar die noordelikste grenspos tussen Thailand en Laos is.

Ons oornag by die oulike Bamboo Gastehuis reg langs die rivier en sien vir die eerste keer die reuse geitjies waarvan ons gelees het. Twee van hierdie derting sentimeter lange diertjies kruip rond langs die dak van die restaurant opsoek na motte. Pragtig en baie meer luiddrugtig as hulle kleiner nefies.

Die baie dierbare gastehuis eienaar (wat ons verduidelik dat hy anders as ander plekke, nie Bob Marley en Eagles speel om mense te lok nie maar net sy eie wereld musiek en jazz met sy gaste deel) se vrou het vroeg oggend ‘n volgraan brood gebak en ons geniet dit saam grondboontjie botter (wat ek nog nerens weer kon vind nie) en koffie voor ons na die immigrasie kantore drentel.


Ek he teen dag langer gebly as wat ek moes, maar daar is geen probleme en nie en gou steek ons die Mekong oor in ‘n eenvoudige lang kanoe met ‘n eenmotor enjin. Aan die Laos kant van die rivier vul ons papiere in en US$35 later word ons een-maand visas, wat tot onlangs toe net vyftien dae was, in ons paspoorte gestempel.


Volgende koop ons kaartjies vir die stadige boot af met die Mekong na Luang Phabang. Dinge in Laos verloop baie stadiger en baie minder ge-organiseerd as in byvoorbeeld Thailand. Ons boot verlaat Huai Xai ruim later as oorspronklik gese. Ons maak die rit met twee bote aangesien daar baie meer mense opdaag op die Saterdagoggend as wat verwag is.

Ons was gelukkig om op die tweede boot plek te kry (ons was aanvanklik gevang op kietsregop hout bankies op die eerste boot) waar daar minder passasiers is en ons kry spasie in ‘n deel waar geen bankies is nie, net kussings. Beslis die gemaklikste manier van reis op so ‘n vaart.

Die vaart duur om en by ses tot sewe ure. Soos on rivier af dryf wissel die landskap van klein rivier dorpies, landerye op heuwel hange, digte oerwoud en bamboes bosse. Die nadeel van die sit op die ‘grond’ is dat tensy jy opstaan jy nie heeltyd baie van die landskap sien nie, maar dit is in elk geval lekker om soms bene te strek, so ons het niks om oor te kla nie.





Al die bote het so 'n tuintjie voor op.

Vroegaand doen ons aan in Pakbeng waar ons oornag. Die dorpie het as gevolg van die bote se stop ‘n paar gastehuise en ons kry ‘n kamer in ‘n nuwerige plekkie met skoon beddegoed en badkamer waar alles werk.

Ons is dankbaar dat die plek waar ons bly en eet die aand niks van die grillies trek wat ons op die boot bespeur het nie. Hoekom is daar altyd een of ander ouer vark met ‘n hoed wat obsene aanmerkings maak en nie sy mond kan hou nie of oningeligtes wat kliphard vrae vra soos “Does Laos have a king- who is this bloke on their money?” Goeiste! Lees ‘n boek en vind uit voor jy op reis gaan en hou jou bek jou luidrugtige ou swaap!
Sondagoggend is ons vroeg op die boot en die keer kry ons van die ou minibus sitplekke wat gemaak staan is op die boot Gemakliker as die houtbankies, minder so as die ‘grond’ sitplekke, maar die keer he tons ‘n uitsig wat die reis baie korter laat voel, al is dit langer as dag een.

Laat die middag arriveer ons by ons eindbestemming, Luang Phabang.

Ek was al twee keer vantevore op besoek aan hierdie pragtige UNESCO Wereld Erfenis dorpie langs die Mekong rivier. Jare gelede was dit die hoofstad van Laos en die laaste koningshuis het hier gewoon tot hulle weggeneem is deur revolusioneres. Die heiligste Boedha beeld in Laos, die Phabang, word ook hier gehuisves.

Die argitektuur van die dorp (of stadjie) bestaan hoofsaaklik uit Frans-Indosjinese geboue (sommige van die details herinner aan ou huise in die Wes Kaap) asook Sjinese winkelhuise- die grondvloer is die winkel en die volgende twee is die huis, en ‘n paar tradisionele Lao hout huise. Daar is ook ‘n groot hoeveelheid Wats in en rondom die dorp. Streng reels bepaal hoe nuwe geboue moet lyk en hoe ou geboue gepreserfeer moet word.

'n Straat vol Frans Indo-sjinese geboue


Tradisionele Laos huis

Sjinese winkel-huis


Wat Mai

Luang Phabang is ‘n stadige plekkie en dit is wat ons doen vir ons verblyf. Wees stadig, slaap laat, drentel deur die Wats, eet lekker en probeer Lao koffie. Laasgenoemde is nie ‘n gunsteling nie, selfs vir ons smaak is dit te sterk, amper te bitter, maar dit proe ruim beter wanneer jy sos die Lao ‘n goeie dosis kondensmelk daarmee meng.

Ons probeer ook daardie berugte Asiese vrug, die Durian. Lank het ek verby markte in plekke soos Taiwan, Maleisie, Thailand en Singapoer geloop en die durian se reuk in die lug gesnuif. Dikwels het gewonder hoe dit smaak en of dit erger of beter as die reuk sal wees. Die reuk het my egter nooit soveel gepla nie, beslis beter as stink tofu.

Durian is sleg. Slegter as wat dit ruik. Daar is ‘n sekere mango wat ek al probeer het, proe so bietjie soos kasterolie en parafien. Dit is hoe die durian geproe het maar ruim sterker, met dalk die vaagste geurtjie van vla. Beslis nie genoeg om my oor te haal om meer as drie stukkies te probeer nie voor ek my vurk neersit met ‘n “Blegh!”

Ons het darem een dag, gister, bietjie meer aktief spandeer. In pas met ons besluit om in elke land ‘n kook kursus te doen het ons gister deur die Three Elephants Restaurant geleer hoe om ‘n paar Lao disse te maak.

Die Lao disse is soos Thai disse ook baie geurig, maar van die geure is dalk bietjie meer subtiel. Minder vis sous en rissie, bietjie meer suiker en so meer. Ons kyk eers hoe die twee onderwysers, Neng en Leng, ‘n paar disse maak, proe en kies dan watter ons wil maak.

So leer ons toe om gebraaide noedel en hoender, Luang Phabang slaai met eier mayonnaise, hoender larp (‘n soort hoenderslaai- baie geurig), vark bredie met eier en vis sous en gebraaide eiervrug en gemaalde vark te maak. En die baie geurige soet rissie smeer wat jy met so te se enigiets kan eet as ‘n soort bykos.

'n Paar van ons Laos disse

Ons volgende kook kursus sal hopelik erens in Kambodia wees.

So wat nou vir ons twee avonturiers? More neem ons die bus suid na Vang Vieng om vir ‘n dag te kayak en daarna verder suid na die hoofstad, Vientiane, waar ons hoop om weer ‘n motorfiets te kan huur en vir ‘n paar dae die nabygelee nasionale park en mensgemaakte meer te besoek.

Wednesday, July 11, 2007

Chiang Mai se koffie winkels en 'n kook kursus


‘n Week gelede het ons ons laaste voldag in Chiang Mai spandeer. Soos ek dalk al vantevore genoem het was ek aanvanklik betaanlik onbeindruk met Chiang Mai. Behalwe vir die ou stadsmure wat plek-plek te sien was het dit na ‘n vaal plek gelyk wat ‘n sekere soort uitlander lok waarvoor ek nie baie kans sien nie.

Gelukkig ontdek ons dat Chiang Mai oortrek is van atmosferiese koffie winkels in ou huise, tropiese tuine en aantreklike moderne glas en metaal geboue, waar ons oor ons laaste paar dae in Thailand gereeld aandoen.

Ons besoek die Chiang Mai Dieretuin wat ‘n redelike goeie beskrywing kry in ons Rough Guide. Dit is nie die beste maar ook nie die swakste dieretuin ooit nie. Daar is ‘n massiewe atrium wat die mooiste tropiese voels soos Victoria Crowned duiwe huisves (reuse duiwe wat lyk soos ‘n kruis tussen ‘n pou en duif) asook helder kleurige parakiete en oerwoud hoenders.

Daar is ook ‘n pragtige Indiese renoster wat die aptyt wakker vir renosters volg volgende jaar in Indie, ‘n reuse veskydenheid neushoring voels en ‘n akwarium waar die reuse Mekong baber gehuisves word. Die baber was massief. Hy het rustig van die een kant van sy reuse tank na die andet geswem en af en toe nors in die rigting van ‘n jonger baber gehap. Ongelooflike gesig.

Ek wou lankal ‘n Thai kook kursus loop om uit te vind hoe items soos kerrie smeer en groen papaya slaai voorberei word. Aangesien beide Alexander en ek baie lief is vir eet en kook het ons dus besluit om sover ons kan in elke land waar ons aandoen so ‘n kursus by te woon.

Chaing Mai is bekend vir die aanbied van allerlei kursusse, van Thai masseer tot die kook van Thai kos. Dit was dus hier waar ons op ons laaste dag in die stad vroeg opstaan om ons aan te sluit by ‘n drie ander mense vir ‘n dag van kook by die Thai Farm Cooking School.

Ons word eers geneem na ‘n plaaslike mark om te leer wat die verskil is tussen jasmyn en sticky rice (‘n sort rys wat taai word wanneer dit gekook is en met die hand ge-eet word in klein balletjies) is en ons vind uit hoe kokosneut melk en room gemaak. Ons kursus leier, ‘n dierbare meisie wat haarself voorstel as Nice en elke woord eindig met ‘n sagte en nasale ‘ngum’ wys die verskillende soorte kerrie smeersels uit wat gebruik word om die geurig groen, rooi en geel kerrie te maak.



Ons drentel vir ‘n rukkie rond tussen die berge brand rissies, knoffel, sjalotte en gemmer en koop yskoffie gemaak van regte koffiebone voor ons ry na die plaas, ‘n halfuur se ry buite die stad, waar die kook skool gelee is.


Deur die loop van die dag maak on seers ‘n kerrie smeer (ek maak rooi, Alexander groen), kerrie met in kokosneut melk, groen papaja slaai, gebraaide hoender en kasjoeneut, pad-thai noedels en mango met sticky rice en kokosneut room vir nagereg.



Die kursus was besonder leersaam. Ons het geleer hoe om bestandele soos die twee-blarige kaffir lemmetjie blare, Thai ginseng, galangal en bitter eiervrug te gebruik in disse. Ons kon eksperimenteer met die gebruik van soya teenoor vis sous en sampioen teenoor oester sous.

Teen die einde van die dag was ons totaal ooreet en baie nuuskierig om die resepte op ‘n later stadium in ons eie huis te probeer!