Thursday, July 5, 2007

Oerwoude en Antieke Stede

Weke het nou weer verby gegaan sedert ek laas enigiets geskrywe het. En indien dit nog nie weke en weke is nie voel dit wel so. Bangkok en orals en alles wat na Bangkok gebeur het voel soos ‘n klein puntjie ver agter ons. Dit gebeur seker wanneer mens die heeltyd aan die rond beweeg bly.

So waar was ons orals en wat het ons alles aangevang?

Avonture in die Oerwoud- Khao Yai Nasionale Park

Maandag 18 Junie sleep ons vroeg uit die bed en eet vir oulaas ontbyt by Rick’s voor ons die bus neem na Bangkok se Hualamphong stasie. Met ‘n trein, soortgelyk aan die houtbankie een waarmee ek na Kanchanaburi is, ry ons na die dorpie Pak Chong ‘n hele paar uur noordoos van Bangkok. Met ‘n publieke songthaew ry ons na ‘n gastehuis buite die dorp waar ons die aand oornag. Die gastehuis is deel van ‘n familie opset en heel eenvoudig dog netjies met ‘n oumatjie wat vir almal kook.

Volgende oggend ry ons verder per songthaew tot by die ingang van die Khao Yai Nasionale Park.

Nou, ek was oor die afgelope sewe of wat jaar ‘n baie gereelde besoeker aan Thailand en al wat ek ooit hier kom doen het was inkopies, son soek en oordosisse voet masseerings. Ek het nooit werklik aan Thailand gedink as oerwoud destinasie nie, daarvoor is ek na Maleisie. So dit was met groot nuuskierigheid en opgewondenheid dat ek en Alexander van die Songthaew afklim en ons ingangsfooi betaal vir die park.

Vanaf die ingang tot by die besoeker’s sentrum is meer as veertien kilometer se stap, maar gelukkig bied die hekwag aan om iemand te vra vir ‘n geleentheid. Na ‘n rukkie se wag stop ‘n bakkie en laai ons agterop en so begin ons avontuur in die oerwoud, agter op ‘n rooi Toyota bakkie met ‘n koel reenwoud reen wat ons verwelkom.

By die besoeker’s sentrum kry ons ‘n verwarrende kaart in Engels en drie verskillende opinies oor hoe ver die kampeer area van die sentrum af is en hoe om daar te kom. Ek is tot nou toe nie seker hoe ver ons die eerste dag gestap het nie, maar dit was beslis ruim verder as wat enige van die personeel vir ons laat verstaan het.

Die geroep van gibbons in die digte woud het wel opgemaak vir die stap. Ons het nie verwag om veel te sien nie, dit is na alles ‘n tropiese reenwoud en nie gras vlaktes nie, en aangesien dit die reen seisoen is is alles baie meer ruig en donker. Maar oppad na die kampeer terrain sien ons varkstert macaques, muntjak bokkies en sambar takbokke.

My groot wens was om ten minste eenkeer gibbons te sien, maar omdat hulle meestal in die hoogste takke en ruigste dele rondswaai het ek gewet die knase is skraal. Halfpad oppad kampeer area toe hoor ons egter baie naby aan die pad die hartseer, hoe gesing van ‘n gibbon. Ons staan stil en loer deur die takke. Ek kan die takke sien skud en beweeg en dan sien ons die skaduwees wat swaai tussen hulle. Vir ‘n oomblik kan ek ‘n bietjie uitmaak van ‘n hele gibbon! Verder sien ons net die donker silhouette wat swaai-swaai-swaai.

By die Lam Takong kampeer terrein huur ons ‘n tent vir ‘n paar Baht, asook skuimrubber matrassies. ‘n Vriendelike skrywer van Bangkok gee ons ‘n geleentheid na ‘n staproete wat lei na twee van die watervalle in die park. Die oerwoud paadjie lyk of dit nie gereelde verkeer kry nie en ons stop kort-kort om nare bloedsuiers van ons skoene en enkels te verwyder. Ons sien ook ‘n menigte briljant gekleurde skoenlappers, akkedisse, ‘n bruin slangetjie en woud voels met helder flitse kleur op hul vlerke.

Die aand stap ons met ‘n korter pad (wat eers as gevolg van tekort aan padtekens ‘n lang roete word) terug na die besoeker’s sentrum en sluit ons aan by ‘n nag safari.

Van agter op ‘n tipe songthaew met oop kante en ‘n man wat staan met ‘n helder gloeilamp ry ons die nag in. Aanvanklik sien ons heelwat van die sambar takbokke wat in groepe van vyf staan en vreet langs die pad.

Weereens verwag ons om min te sien, maar skielik rem die bestuurder hard en die lig val op ‘n groot lyf wat staan en vreet aan ‘n tak. ‘n Asiese bos olifant. Hy is ruim groter as die wat ek al by toeriste atraksies sien rondstaan het. Ek probeer om vinnig in die swak lig ‘n foto te neem waarop mens amper die olifant kan uitmaak. ‘n Oomblik na ons hom gewaar verdwyn hy deur ‘n klomp bosse die woud in. Daar is geen teken dat daar ooit ‘n reuse dier hier was nie. Ek tik Alexander op die skouer en noem aan hom dat dit die presiese plek is waar ons ‘n uur vantevore verby gestap het opsoek na die besoeker’s sentrum.

Heelwat sivet katte sluip rond in die gras en loer af en toe na ons toe. Ons sien ook ‘n dhol of Asiese wildehond, en ‘n Maleisiese ystervark naby ons kampeer terrein wat sy penne kwaai skud toe ons verby hom loop oppad terug tent toe. Deur die nag word ek kort-kort wakker van die geluide van die oerwoud- paddas, blaffende bokke en soms ‘n gibbon.


Laat middag op ons tweede dag stap ons terug besoeker’s sentrum toe waar ons onsself rustig besig hou met sketswerk en lees tot ons weer by ‘n nag safari aansluit. Dit kos net B40 per persoon, so hoekom dan die twee aande in ‘n ry nie? Ongelukkige sak daar ‘n bui reen uit net soos ons begin ry en die wild hou hulself skaars. Ons sien wel nog ‘n enkel olifant bul (weereens op ‘n pad wat ons gestap het die middag). Hierdie een is buierig en maak himself nie skaars nie maar storm op die bakkie af, die drywers jaag weg en die kwaai bul sit sy stormloop om in ‘n drafstap en draai dan om in ‘n ander rigting.

'n Spirit house in die oerwoud waar eens 'n huis gestaan het.

Donderdagoggend word ons vroeg wakker geroep deur die gibbons. Ons slaan die tent op en kry ‘n geleentheid met ‘n park vragmotor na die hek vanwaar ons weer die songthaew neem tot in Pak Chong. Van hier vertrek ons per trein weer deels deur die oerwoud na Ayutthaya, so paar uur noord van Bangkok.

Antieke hoofstede- Ayutthaya en Sukhothai

Bangkok het redelik onlangs eers die hoofstad van Thailand geword, erens in die laat 18de eeu, na Ayutthaya telkemale vernietig is deur oorlog behepte Burmese, het koning Rama I (die eerste in die Rama familie van konings, die huidige koning is nommer 9) hierheen geskuif.

Voor Bangkok was daar Ayutthaya en voor haar was daar Sukhothai. Vandag bestaan beide nog in die vorm van kleiner dorpies/stede en die groot trekpleisters hier is die ruines van die antieke stede of hoofsaaklik temple komplekse. Die paleise en huise self was van hout en het met tyd vergaan, maar die temples, die belangrikste geboue, was altyd gebou met klip en stene.

Ons arriveer laat middag in Ayutthaya en kry ‘n kamer in ‘n 100-jaar oue teak huis op een van die rivier banke. Daar is baie min rede lyk dit om hierheen te kom behalwe vir die ruines. Meeste restaurante bedien vervelige kos en die stad self is nie juis aantreklik of interessant nie. Gelukkig bedien ons gastehuis heerlike disse soos tuna met groen Kerrie in piesang blaar asook draak vrug slaai.

Vrydagoggend huur ons ‘n motorfiets en ry so tussen ‘n paar ruines deur. Van die komplekse is redelike goed bewaar en plek-plek is daar nog van die oorspronklike Boedha beelde te siene, maar op baie plekke is dit maar bouvallig en le daar soms halwe stukke van Boedha beelde rond. Skool toere is ook volop wat nogals afbreek maak aan enigiets antieks en mooi.

Ons het gedink om bietjie langer in Ayutthaya te rus, maar die feit dat daar nerens ‘n ordentelike latte of eens koppie koffie te kry is nie (meeste plekke bedien kits koffie- jig!) laat ons besluit om Saterdagoggend die eerste bus verder noord na Sukhotai te neem. Meer as twee ure na die bus verwag word trek die uiteindelik by die stasie af en ons klim met groot vreugde op die lugverkoelde ‘VIP’ bus.

In Sukhothai kry ons ‘n ‘n tipe hout bungalow in ‘n tropiese tuin met swaar houtraam vensters. Ons neem aandete by een van die vele straat stalletjies naby een van die dorp se wats. Skerp noedel sop en hoender gebraai met brandrissie en basiel. By ‘n ander stalletjie bestel ons piesang roti vir nagereg.

Sondagoggend neem ons nog ‘n songhthawe uit na die ou stad. Ons stop eers by ‘n restaurant wat in ons gids genoem word vir hulle lekker koffies, maar die latte’s is maar flou en vervelig.

Die hoof kompleks in Sukhothai is besonder mooi bewaar. ‘n Reuse stuk aarde vol ruines waarin daar nog massiewe Boedhas sit en uitkyk oor die wereld om hulle. Baie meer moeitie is gedoen om hierdie kompleks te herbou soos dit oorspronklik gelyk het. Binne in die gronde is daar ook nog van die oorspronklike moats (weereens ‘n word wat ek glad nie meer seker van is in Afrikaans nie) wat gevul is met water om ‘n idee te gee van hoe dit oorspronklik gelyk het.

Ons spandeer meeste van die tyd in die sentrale area asook die museum waarin baie ou beelde en erdewerke te sien is voor ons terugkeer na die nuwe Sukhothai. Weereens word ‘n besoek aan ‘n dorp kortgeknip as gevolg van ‘n tekort aan ordentelike koffie en Maandagoggend spring ons op die bus na Chiang Mai, Thailand se tweede grootste stad in die noorde van die land.

Tuesday, June 26, 2007

Publieke Vervoer

Meeste van my lewe was ek in 'n posisie waar ek nooit regtig nodig gehad het om gebruik te maak van publieke vervoer sisteme nie. Ek was gelukkig genoeg om 'n motor as student te he en later 'n motorfiets in Taiwan.

Na my terugkeer na Suid Afrika vroeg verlede jaar het my ouers in hul dierbaarheid my oorsese suster se motor aan my geleen. Maar een ongelukkige aand terwyl ons huis oppas in Vishoek het iemand besluit om dit Toyota te gebruik vir parte en ek moes skielik vir die eerste keer in my lewe begin gebruik maak van die publieke vervoer sisteem.

Gelukkig was Alexander reeds goed gesout in die gebruik maak van treine en minibus taxis in Kaapstad so ek was vinnig ook gemaklik in die proses. Op 'n manier het die gesteelde kar skielik na 'n seen begin lyk. Ek moes wel bietjie vroeer opstaan in die oggend, maar ek het 'n nuwe deel van die stad en die wereld beleef waarvan ek nooit werklik bewus was nie. Dit was asof ek nou baie meer deel van die stad om my begin voel het. Daar was iets besonders (ek weet dit klink sentimenteel) daarin om die oggend in die minibus te klim en dan in die trein en almal om jou lyk nog half aan die slaap en rus oppad werk toe. En laat middag lyk almal so verlig omdat die dag verby is en Vrydae heers daar groot opgewondenheid want dit is naweek.

Toe ek in Los Angeles aankom het ek dadelik besluit ek wil heelwat gebruik maak van die bus en subweg sisteme. Alexander het wel 'n kar gehad, maar hy was soggens by die werk en ek wou nie heeltyd rondwag tot hy huis toe kom nie. Op my vierde dag het ek my eerste bus roete on die knie gehad en 'n week later het ek die subweg (is dit 'n woord?) begin gebruik.

Ek het myself voorgeneem om uiteindelik ook van Bangkok se publieke vervoer sisteem gebruik te maak. Voorheen het ek wel die BTS (skytrain) gebruik, maar nooit die busse, rivier taxis en bote nie. Teen die tyd wat Alexander in Bangkok gekom het was ek die meester van twee bus roetes, rivier boot stoppe en ek het 'n goeie idee gehad van hoe die kanaal sisteem werk. Ek het dit dus reg gekry om vir langer as 'n week in Bangkok te bly sonder om die taxis (behalwe 'n vroeg oggend na die lughawe) of tuk-tuks te gebruik!

En so reis ek voort, op onlugverkoelde busse, stowwerige songthaews, ongebalanseerde bote en die genade van vreemdelinge.

Sunday, June 17, 2007

Bangkok en vorentoe

Amper 'n week gelede het ek in Bangkok aangekom, en more vertrek ons weer.

My eerste twee dae hier was uiters onaangenaam. Ek het 'n dik verkoue gehad en wou net op alles en almal skreeu. Boonop het ek my eerste aand terug in Bangkok by 'n plek gebly waar ek heeltemal te veel betaal het vir 'n taamlike simpel kamer. Ek was nie gelukkig nie.

Teen Dinsdagaand het dinge darem begin beter lyk. Ek het 'n ent af in die straat vir ons plek gekry by 'n gastehuis met die naam Happy House en ek was happy met die plek. Skoon kamer en badkamer met lugverkoeling en warm water asook gawe ontvangs.

Vroeg Woensdagoggend het ek vir Alexander by die lughawe ontmoet. Vir 'n verandering is ek die een wat die stad beter ken en ek dink ek het myself goed van my taak gekwyt om hom rond te wys in hieride mal stad waarvoor ek so lief is.

Ons het Woensdag redelik rustig gevat. Middagete by een van die baie oulike eetplekkies wat ek ontdek het op Phra Arthit, rondgedrentel in die Banglamphu areaen laat middag 'n koffie. Phra Arthit is 'n straat naby Khao San road wat paralel loop met die Chao Phraya rivier. Daar is ruim minder toeriste en meestal Thai studente, al die eetplekke is baie ouliker as enigiets in die oordonderende en tacky Khao San. Die straat het ook 'n rustiger atmosfeer as elders.

Ons neem laat middag 'n rivierboot bus af met die Chao Phraya om onsself op die BTS Skytrain te kry. Ek het gelees van 'n restaurant naby die Surasak stop wat oulik klink.

Die Ban Chiang restaurant is 'n blok se loop vanaf die stasie op 'n stil straat. Dit is ideaal vir 'n eerste aand in Bangkok wanneer alles nog bietjie oorweldigend is. Die restaurant is 'n ou hout huis met 'n ruig tuin aan die voorkant waar dapper gaste die hitte kan trotseer. Ons het besluit om liewers binne te eet waar dit bietjie koeler is.

Die kos was ongelooflik! Ons voorgereg was beslis die hoogtepunt. Fyn stukkies hoender word voorgesit saam met 'n bakkie met cashews, klein stukkie slemmetjies, vars groen peper korrels en stukkies rooi ui. Jy skep 'n bietjie van alles op 'n donker groen kale blaar, rol dit op en eet. Die peperkorrels, lemmetjie en ui ontplof in jou mond. Dit is 'n perfekte kombinasie van beide smake en tekstuur. Ek kan nie wag tot ek weer by 'n kombuis uitkom om dit self te probeer nie!

Donderdagoggend eet ons rustig ontbyt by Ricks Cafe voor ons stap in die rigting van die Grand Palace. Die paleis gronde is ruim en huisves een van die konings huis se vorige wonings asook 'n belangrike tempel kompleks.


Binne in die Wat Phrae Khao is een van Thailand se mees heiligste buddha afbeeldings, die van die Emerald Buddha. Die hele buddha is gekerf uit een stuk jade, maar oorspronklik het hulle gedink dit was die ander groen edelgesteente.



Na ons deur die al die komplekse geloop het en die mooi bewonder het stap ons verder suid na die Wat Pho kompleks waar die werelde se grootste goue buddha is wat op sy sy le. Dit bly 'n indrukwekkende gesig, veral die reuse voete wat versier is met mother of pearl stukkies.


Ons neem 'n boot na die ander kant van die rivier waar ons die Wat Arun of Temple of Dawn besoek. Die emerald buddha was eers hier gehuisves, maar toe die paleis trek het die wat bietjie agteruit gegaan. Tog bly dit 'n besonderse tempel wat versier is met stukkie sgebreekte porselein. Van bo van die tempel kan mens ver uitkyk oor die stad en die rivier.





Vrydag eet ons ontbyt by Roti Mataba. Ons probeer hulle peisang mataba. Dit is basies gebraaide piesang wat toegedraai en danw eer gebraai word binne in 'n dun roti, bedien met kondensmelk. Heerlik!


Ons neem 'n kanaal boot op een van die vele kanale of khlongs wat deur Bangkok vloet na die Jim Thompson huis. 'n Tradisionele Thai huis wat die eertydse sy-magnaa stuk vir stuk van ander van Thailand laat kom en bou het in een van die mooiste tuine in die stad. Vandag huisves die huis ou kunswerke wat hy versamel het en meubels.


Die res van die dag bederf ons onsself deur rond te drentel in luukse departements winkels rondom die Siam area. Later die aand eet ons Lebanees in een van Sukhumvit se oorweegse Midde-oosterse stegies, wat dit amper laat voel of mens in 'n ander deel van die wereld is.


Saterdagoggend skrik ons laat eers wakker en neem dan weer 'nrivier bus en die trein tot by die malse Chatuchak naweek mark. Ons drentel rond deur al die stalletjies en verkyk ons aan alles. Want hier kry mens regtig alles. Tot mopshondjies en meubels.Ek koop 'n piepklein naaldwerk masjien wat lyk soos 'n stapler!


'n Vriendin van my van Taiwan is op die oomblik besig om 'n onderwys graad hier te doen, so ons ontmoet haar laat aand vir ete by nog een van die oulike studente restaurante op Phra Arthit. Later gaan ons vir drankies by 'n plekkie waaroor ons nuuskierig was. Bedags 'n koffiewinkel en saans 'n kroegie. Dit is piepklein maar baie atmosferies en die musiek is nie oorverdowend nie.

Vandag was ons laaste dag in Bangkok. Ons het besluit om dit baie rustig te neem, aangesien die afgelope paar dae nogals besig was. More vertrek ons na die Khao Yai natuur reservaat noord oos hiervandaan. Ek is opgewonde vir die volgende plek op ons lys maar ook bietjie hartseer, soos altyd, om Bangkok te verlaat.

Daar was 'n paar hoogtepunte wat uitgestaan het op hierdie besoek aan Bangkok.

Die rivier boot busse op die Chao Phraya en die kleiner bote op die kanale,gemaklik, atmosferies en goedkoop. Baie meer opwindend as taxis en tuk-tuks. Oulike koffie en eetplekke rondom Phra Arthit wat nie vol raserige toeriste is nie waarvan die beste is Roti-Mataba, Ricks Cafe, Coffee and More en Sripoom. Aantreklike, lugverkoelde winkel sentrums waar die beste van Thai ontwerp waardeer kan word in Siam.

En nou, noord na die oerwoude!

Monday, June 11, 2007

Kanchanaburi en terug in Bangkok

Ek's vanoggend per minibus terug na Bangkok. Die rit was hair-raising. Enigiemand wat wil kla oor die minibus taxis in Suid Afrika moet die een waarin ek was probeer oorleef. Ek het binne die eerste blok vyftien heiliges van 3 gelowe opgeroep om my te beskerm.

Maar eintlik wil ek skrywe oor Kanchanaburi. Ek het anderdag genoem van die ou trein en die Thonburi stasie in Bangkok waarmee ek na Kanchanaburi gery het. Hier's 'n foto van die trein.




Kanchanaburi is eintlik meer bekend vir die baie POW (Prisoner of War) begrafplase en die spoorweg lyn wat deur die dorp ry tot naby aan die grens van Myanmar (Burma). Die Japanese het tydens die 2de Wereld Oorlog oorlogsgevangenis gebruik om in haaglike omstandighede te werk aan die lyn te werk. Duisende van die POW's en Thai werkers is dood aan siekte en uitputting ensovoorts. Die bekendste besienswaardigheid hier is seker die brug wat oor die Kwai Yay rivier loop en wat vandag genoem word The Bridge Over The River Kwai, soos in die fliek.

Ek het besluit dat ek nie hierheen wou kom vir die groot sirkus wat gemaak word om die naarhede van oorlog nie maar om net te kom ontspan langs die rivier.




Die Kwai Yay vloei sy rustige gang deur Kanchanaburi met die gevolg dat baie mense in huise op die river bly en abie eetplekke ook op die rivier rond dryf. Die plek waar ek gebly het, Sam's River Raft House, is een van vele plekke waar jy so op die rivier kan bly en rustig kan rond klots in jou slaap saans. Hier onder is die plekkei waar ek gebly het. En 'n uitsig oor die rivier.




My eerste dag in Kanchanaburi het ek meestal rond gedrentel en nog probeer om oor my jetlag te kom. Maar laat die Saterdag middag het ek 'n fiets gehuur (B80 vir 2 vol dae!). Toe ek vra vir 'n slot was die dame se antwoord "No looooock. No steaaaaal."

My fiets was pienk (daar was geen ander kleur nie) met 'n mandjie. Ek HOU van mandjies so los my uit.

Ek het Sondagoggend na ontbyt oor gery na die weste kant van die rivier waar ek die Wat Tham Kao Poon besoek. Die trekpunt hier is nege grot kamers waarin allerlei religieuse stukke te sien is. Ek hou nie van grotte nie, maar die plek is helder verlig so ek haal diep asem en stap soortvan rustig deur die bedompige grotkamers.

Die tier staan waak buite die grot, neem ek aan. Die buddha hieronder staan by die ingang van die grot.


Oppad terug ry ek verby hierdie vreemde gesig. In Thailand het omtrent elke huishouding en besigheid 'n spirit house soos die een hier onder op linkerkant. Hulle staan op hoe pilare, ek dink dit moet hoer as die inwoners van die huis staan. Daagliks word offers gemaak vir die geeste wat hier woon en wierook gebrand ensovoorts. Maar die een hier onder en klomp ander het sommer net so langs die pad gele. Sommige le al lank en is aan flarde en ander is bietjie nuwer, maar beslis oppad na 'n stowwerige einde.


Later ry ek verby die befaamde brug en drentel na die oorkant.


Die middag besluit om rivier af te kayak. Ek word op 'n punt 12km op met die rivier afgelaai met kayak, spaan, baadjie en bottel water. Daar is niemand anders saam met my nie so ek vloei af in groot stilte. Langs die rivier sien ek visvangers met die onnatuurlikste blou kleure, 'n swart voel met 'n reuse stert wat tussen takke wegkruip en 'n likkewaan wat van die een bank na die ander swem!



Ek is flou na al die fiets en roei en te veel son en neem vroeg ete by Apple's Guest House. Ek bestel die Ma La Kor Phad Thai Kung. 'n Dis wat bestaan uit gebraaide groen papaya, garnale, grondboontjies, eier en groente. Heerlik! En dit alles geniet ek met 'n vars piesang melkskommel.


Vanoggend voor ek teurg reis na Bangkok eet ek eers 'n bord vars vrugte vir ontbyt saam met my Med-lemon. Erens langs die pad het ek 'n onplesierige verkoue opgedoen.

Ek het die hele dag more om beter te word en dan land Alexander Woensdagoggend. Ek kan nie wag nie! Volgende week die tyd is ons in die oerwoud!

Saturday, June 9, 2007

Wie wil 'n poskaart he?

Ek love dit om poskaarte te stuur so ek gaan iets probeer. Die eerste drie mense wat hulle pos adres vir my stuur na vanspysenreis@gmail.com kry 'n poskaart van my af. Dit geld nie dadelike familie nie want julle kry dit in elk geval. Maak net 'n nota by die comments hier onder sodat ek gaan kyk by hierdie epos adres.
Die poskaart sal na alle waarskynlikheid vanaf Bangkok wees aangesien die hier in Kanchanaburi (die spelling is toe reg) bietjie vervelig is. So laat hoor wie van my wil hoor!

Friday, June 8, 2007

Na Kanchanburi

Ek kry heeltyd die gevoel ek spel die plek se naam verkeerd. Ek dink ek mis 'n 'h' erens.

Gister vertrek ek vanaf Thonburi stasie in Bangkok, wat niks meer as 'n sinkdak, platvorm and kaartjie kantoor is nie, na Kanchanaburi.

'n Ouer lokomotief trek 4 eenvoudige karre die plus-minus 3 ure weswaarts vanaf Bangkok. Binne in die karre is oranje-bruin houtbanke wat rug-teen-rug gespasieer is. Die vensters word wawyd oopgelos om die lug te sirkuleer, maar dit maak nie juis 'n verskil nie, die lug buitekant is reeds so drukkend.

Erens klim 'n ouer dame (ek skat haar so sesti) op die trein en maak haarself gemaklik op die bankie oorkant myne. Sy sit reg oorkant my sodat ek my bene na links moet skuif om nie heeltyd teen haar te stamp nie. Haar naels (vingers en tone) is hot pink geverf en aan haar swart handsak om haar nek hang 'n plastiek sakkie met opgesnyde stukkies braaivleis.

Later swaai sy beide bene op haar bankie en val vas aan die slaap. Haar lig rooi lippe le effens oop en haar pienk tongetjie steek effens uit. Ek gee 'n moee sug en probeer verder lees.

Net voor 5 kom ons aan in Kanchanaburi en ek verdwaal eers oppad na my gastehuis. 'n Kamer op 'n platform wat dryf op die Kwai rivier. Te heerlik.

Na ek uitgepak het drentel ek nog so bietjie rond en besluit om aandete te neem by een van vele restaurante op Thanon Maenam Kwai (ek dink Thanon beteken straat) waar meeste eetplekke en gastehuis is.

Dit wil voorkom of die mense van Kanchanaburi die woord 'Toerisme' gehoor en met groot oordaad begin gastehuise, eetplekke en internet kafees oopmaak het. Soveel so dat daar nou meer plekke as toeriste is.

Ek is dalk ook net op verkeerde tyd van die jaar hier. 'n Agent vertel my vanoggend dat meeste van die aktiwiteite wat hier gebied word stil staan tans omdat dit buite seisoen is. Tog, dit wil voorkom of hier genoeg is om my besig te hou tot Maandag wanneer ek beplan om terug te keer na Bangkok.

Thursday, June 7, 2007

Bangkok

Ek word vanoggend wakker in 'n kamer wat heeltemal te koud is en heeltemal te helder vir my fragiele toestand. Ek tel my horlosie op om te sien hoe laat dit is. 8:04AM.

Jirre mens! Kan ek nie net soos ander normale mense laat slaap nie? Ek het dan na 3 eers in die bed gekom. En dit na ek sedert Dinsdag al aan die vlieg was (dit is nou Donderdag) en eers vanoggend vroeg geland het. Ugh!

Maar daar sit ek in die bed. Haas wakker. So wat doen mens?

Jy trek aan en stap na Rick's Coffee Shop wat nie te ver van die Rambuttri Village Inn waar ek tuisgaan is nie, naby aan die Chao Phraya rivier. Ek het van Rick's gelees in die Rough Guide en dit lyk na die plek waar ek my latte dors kan les.

Rick's is pragtig. Net te pragtig. Die styl is ou-Sjinees met donker hout en prente teen die mure. Hout tafeltjies ensovoorts. Ek bestel 'n piesang crepe en tuisgemaakte plain yoghurt met 'n latte. Yum.

By die tafel oorkant my sit 'n middeljare paartjie van Australie. Daardie aaklige aksent is darem wragtag onmiskenbaar. Die man, met 'n grys baard en grys hare om die bles, dra 'n moulose T-hemp en kort broek. Sy vrou/meisie se hare is bruinrooi gekleur en woes gekrul. Sy het 'n liggroen thai-dye sarong dubbeld gevou om haar middel sodat dit soos 'n mini lyk en dra ook 'n moulose T-hemp om haar tan te wys. Mens is after all net so oud soos wat jy lyk...

Bangkok verander maar verander ook nie. Die een ding wat konstant bly is die reuk. Vir my ruik Bangkok soos uitlaat gasse, vrugte wat oorryp is en in 'n boks le en vis sous. Soms ruik jy wierook wanneer jy verby 'n tempel of spirit house stap.

Ek ontvang 'n 90 minute full body massage wat wondere doen vir my jetlagged lyf en gaan dan vir middagete by Roti Mataba. So ent verder op in dieselfde straat as Rick's. Ek was op my vorige besoek hier vir ontbyt.

Roti Mataba bedien volgens die Lonely Planet Moslem-Thai kos. Dit is maklik om die plek mis te loop. Dit is in 'n baie nou, ou winkeltjie. Aan een kant van die muur staan 'n paar opslaan tafels met ruglose stoeltjies en aan die ander kant is die kombuis. 'n Nou spasie tussenin is oorvol van die mense wat daar werk wat heeltyd meer lyk as klante.

Ek bestel twee klein rotis saam met 'n bakkie viskerrie en ys tee. In my bakkie kerrie dryf daar 'n reuse stuk geel rissie rond wat soebat om ge-eet te word asook lourier blare en 'n hele kardamom pod. Die kleur is 'n diep oranje-rooi en soos ek smul en lees kry ek dit reg om sulke mooi merke in Shalimar the Clown te los.